Middelburg trots op tennisspanne

MIDDIES spog hierdie jaar met vier meisie- en drie seunstennisspanne.


MIDDIES spog hierdie jaar met vier meisie- en drie seunstennisspanne.

Hierdie spanne word deur drie entoesiastiese afrigters afgerig. Die Mostert broers, Tiaan en Ruan asook Marinel Lourens is self spelers wat presteer het op die tennisbaan. Hierdie afrigters se geesdrif kan duidelik in die spelers se spel gesien word.

Op Vrydag, 2 Maart het MHS se eerste agt seuns- en meisiestennisspelers in Bloemfontein aan die Fichardtpark-sportnaweek gaan deelneem.

Hierdie byeenkoms is een van die grootste in die land met ongeveer 4 000 deelnemers van verskillende skole.

MHS het vier tennisspanne en een skaakspan ingeskryf. Die eerste meisies het agste uit 12 spanne geëindig, terwyl die eerste seuns sewende uit 10 spanne geplaas het.

Die tweede meisies het vyfde plek uit 13 spanne verower en die tweede seuns het vierde uit sewe spanne geëindig.

MHS het teen spanne van Aliwal-Noord, Cradock, Volkskool, De Aar en Burgersdorp meegeding.

Wedstryde is onlangs teen Cradock in Middelburg gespeel en die eerste span het met slegs vier potte verloor, terwyl die tweede seuns- en meisiespanne, sowel as die derde meisiespan hul wedstryde gewen het.

Middies se eerste en tweede spanne het ook teen Burgersdorp te staan gekom en het hulle oortuigend met 115/65 en 127/58 geklop.

Tydens die wedstryde teen De Aar het hulle gelykop geëindig met 162 potte elk.

You need to be Logged In to leave a comment.