OP Middelburg is die van “Vorster” alombekend en loop daar ’n ryke geskiedenis oor hierdie familie in die dorp en omgewing.
Die naweek van 21 September het 21 Vorsters van so ver as Pretoria, Kaapstad en Adelaide na Middelburg gekom om familiefees te hou. Die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders van J.C. en Rina Vorster het ’n wonderlike reünie-naweek op die gasteplaas Welvanpas van Rita Moore deurgebring.
Rina, ’n nooi Van der Berg, het in die Kliphuis grootgeword. Haar vader was die sappier van die destydse tronk en die Kliphuis Restaurant, soos dit vandag bekend staan, was die ou sappierswoning langs die tronk gewees. Die pragtige, geskiedkundige klipgebou by die ingang van Middelburg vanaf Cradock en Graaff-Reinet is op die hoek van Meintjies- en Joubertstraat geleë.
Tans word die restaurant deur Helma Jansen van Vuuren bestuur.
Die Vorsters het ook ’n kranslegging in die plaaslike begraafplaas gehou, asook die plase Springfontein, Ruigtefontein en Gryskop besoek.
Al die Vorsters wil graag hul dank en waardering uitspreek teenoor Middelburg vir al die gasvryheid wat hulle oral ontvang het.