DIE afgelope naweek is die jaarlikse interskole byeenkoms tussen die Hoërskool Middelburg en die Primêre Skool Karel Theron teen Kirkwood gehou.
Die busse vol opgewonde, energieke leerders het reeds Vrydagoggend vroeg die pad aangedurf Kirkwood toe.
Die Middelburg-skole se spanne het uitstekend gevaar en met goeie oorwinnings van die bane, velde, podiums en skaakborde wegge-stap.
Vrydag is daar aan gholf, redenaars, skaak, muurbal en tennis deelgeneem, waarna die netbal en rugby Saterdag plaasgevind het.
Middelburg is weer eens as die algehele wenners van die interskole aangewys.
Hierdie interskole het ’n ryke geskiedenis waaraan daar oor die afgelope 26 jaar gebou is.
Goeie vriendskappe is oor die jare gesmee en Middelburg wil voortbou op die tradisie deur volgende jaar se interskole deel te maak van die skool se 100-jaar vieringe.
Mariaan Stannard, skoolhoof van Middelburg, het die afrigters bedank vir hul harde werk deur die seisoen.
“En aan al die deelnemers, baie dankie vir die goeie sportmangees wat gedurende die naweek geheers het. Ek is trots op die Middies-leerders wat ons skool se naam hoog gehou het.”
Die volgende groot sportgeleentheid op die skool se kalender is die Marco Wasserman-tennistoernooi wat op 24 en 25 Augustus op Middelburg plaasvind. Daarna volg die Sasol Solar Challenge se sonkarre wat Maandag, 24 September by die skool aandoen.
Resultate van interskole teen Kirkwood:
Middies se eerste rugbyspan het met ’n oortuigende 41-24 gewen, terwyl die o.16-span met 34-15 verloor het. Die eerste netbalspan het naelskraap 18-19 verloor, die tweedes het 12-19 verloor, die o.14 het 23-9 gewen en die o.16-span het 25-13 gewen.
Middies se tennis het met 99-63 gewen, die muurbal het 0-1 verloor en die gholfspan het met 64-72 verloor. Die skaakspan het met 6-1 gewen en die redenaars het met 1 476-1 401 gewen.