VANJAAR is die Hoërskool Middelburg 99 jaar jonk!

Middies is ’n tradisieryke skool en beplan vir die naweek van 21 tot 23 September ’n Erfenis-naweek op Middelburg. Alle oud-Middies en ondersteuners word uitgenooi om aan die naweek se verrigtinge te kom deelneem. Van die aktiwiteite waarna daar uitgesien kan word vir die Vrydag is onder meer ’n besigtigingstoer deur die skool, asook ’n pretbelaaide aand van vermaak met oud-Middie, Ilné Fourie.

Vir die laerskoolleerders word ’n fliekaand beplan, terwyl die hoërskoolleerders saam kan sokkie! Op Saterdag word ’n sportdag gehou waar daar aan fietsry, motorfiets- en staproetes en gholf deelgeneem gaan word. Die aand kan almal heerlik saamkuier en dans terwyl daar aan tradisionele karoo-potjiekos en bygeregte gesmul kan word. Die wenners van die onderskeie sportsoorte (asook ander verskuilde afde-lings) sal ook dan aangekondig word.

Op Sondag word die naweek afgesluit met ’n erediens in die NG Kerk (Moedergemeente). Verskeie reünie-groepe is reeds besig met beplanning om die naweek by Middies saam te trek. Kontak MHS by 049 842 1560 of e-pos na middies@adsactive.com vir enige navrae.
– JOHANETTE VAN HEERDEN

You need to be Logged In to leave a comment.