OP Saterdag, Julie 21 was die Hoërskool Middelburg se laaste tuis rugby- en netbalwedstryde vir 2018. Vir sommige spelers was dit ook die laaste tuiswedstryd van hul skool-loopbaan en is die wedstryde met ekstra passie en energie aangepak.
Die spanne van Middelburg en die Hoërskool Burgersdorp het goed teen mekaar opgeweeg en goeie sportmangees tussen die twee skole was aan die orde van die dag.
Die netbal het op ’n uiters positiewe noot vir Middies begin toe Middies se eerste netbalspan dié van Burgersdorp met 25-23 geklop het.
Die adrenalien het veral hoog geloop by die netbal en die pawiljoene het gekreun onder ondersteuners en toeskouers.
Burgersdorp se 2de, 3de en 4de netbalspanne het daarna onderskeidelik met 31-5, 18-17 en 15-6 gewen. Hulle het ook die o.16 wedstryd met 27-21 gewen.
Tydens die laaste wedstryd van die dag het Middies se o.14-netbalspan weer die bordjies verhang en met ’n oortuigende 31-6 teen Burgersdorp gewen.
Op die rugbyveld het Middies se rugbyspe-lers hul uiterste bes probeer, maar kon onge-lukkig nie die titaniese stryd teen Burgersdorp wen nie. Die o.15-rugbyspan van Bur-gersdorp het met 32-10 en die tweede span met 19-12 gewen.
Die eerste spanne se wedstryd het vir behoorlike opwinding gesorg en hier het Middies hul werklik goed van hul taak gekwyt.
Keanan Fillis en Lighle Mlondleni het drie drieë tydens die wedstryd aangeteken, waarna Will Kerneels dit verdoel het. Hy het ook ’n straf-skop oorgeskop. Burgersdorp het eindelik naelskraap met 19-17 gewen.
Nou maak Middies hul gereed vir een van die hoogtepunte op die kalender, naamlik interskole teen Kirkwood wat op 3 en 4 Augustus op Kirkwood plaasvind.