NÁ 36 jaar het Adam van Ster, die hoof-skoonmaker by Middelland Senior Sekondêre Skool in Midros, die tuig op 31 Mei neergelê.
Oom Adam, soos hy bekend is, was só deel van die skool dat die leerders en personeel amper nie kan dink hoe ’n skooldag sonder hom sal wees nie.
Volgens ’n onderwyser by MSSS was Oom Adam iemand wat sy werk en pligte wat daarmee gepaard gaan, altyd eerste gestel het.
“Sy diensbaarheid en nederigheid is eienskappe waaruit elkeen by die skool kan leer,” het die onderwyser gesê.
“Dit was ’n besonderse voorreg vir elkeen by MSSS om by Oom Adam die waarde en kwaliteit van menswees te kon leer. Met sy nederige en hardwerkende geaardheid het hy respek teenoor elkeen getoon en ook gewys wat God van elkeen verwag. Vir 36 jaar het niemand ooit ’n skewe kyk of woord van Oom Adam gekry nie, al het baie mense hom soms tot uiterstes gedryf!”
Dit was op 31 Mei die skool se beurt om hulle hoed vir Oom Adam af te haal soos hy elke dag vir dié by MSSS gedoen het. Die personeel en leerders het gesê hulle gaan hom mis, maar gun hom die rus.