Mielieboere ná vyf jaar beloon tydens prysuitdeling

DIE 20 ton-mielieklub se prysuitdeling van die afgelope vyf jaar is Saterdagaand, 7 Julie op Buffelshoek buite Cradock gehou.


DIE 20 ton-mielieklub se prysuitdeling van die afgelope vyf jaar is Saterdagaand, 7 Julie op Buffelshoek buite Cradock gehou.

Die galageleentheid het tydens ’n baie stylvolle dinee by Buffelshoek Lodge plaasgevind. Pieter Venter het as seremoniemeester opgetree en Zak Steyn het musiek gemaak.

Volgens Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saad, is die doel van die kompetisie om boere uit te daag om die hoogste moontlike tonnemaat mielies te verbou.

Toe die kompetisie vyf jaar gelede begin is, het dit gelyk of 20-ton per hektaar onbereikbaar is, maar vanjaar was daar nie minder as vyf deelnemers wat hierdie droom oorskrei het nie.

Die kompetisie word vir beoordelingsdoel-eindes in ’n Suid- (plase suid van Cradock) en ’n Noordstreek (noord van Cradock) verdeel.

Vanjaar se wenners in die Suidstreek was Leon Scheepers van Leon Ontwikkeling wat 22.60 ton per hektaar gelewer het.

Kort op sy hakke was Zirk Scheepers, sy neef – ’n vorige wenner – met 22.29 ton, gevolg deur Neels Dreyer (20.93 ton). Al drie hierdie boere is uit die Cradock-distrik.

In die Noord-streek het Johan le Roux van Colesberg voorgeloop met 20.39 ton, gevolg deur Lood Engels ook van Colesberg (20 ton) en Karoo Alliance van James Jordaan en Pieter Marais (18.82).

Visser het tydens 2018 se 20 ton-klubfunksie aangekondig dat die 30 ton-klub eersdaags werklikheid gaan word.

Hy het gesê hy is positief dat 30 ton, met nuwe tegnologie en kultivars, haalbaar is.

Hy het ook gesê daar is reeds oor die afgelope vyf jaar hoë opbrengs van tot 23.92 ton per hektaar behaal.

Cradock Saad sê baie dankie aan borge soos Agrifriend, BASF, Cradock Saad, Metson, Monsanto, Pannar Saad, Wemkem SA en Standard Bank wat die kompetisie moontlik gemaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.