Minister wil hidrobreking in Karoo bespoedig

DIE Minister van Mineralebronne Gwede Mantashe het op Dinsdag, 15 Mei aangekondig dat sy ministerie die ontginning van skaliegas in die Karoo wil bespoedig.


DIE Minister van Mineralebronne Gwede Mantashe het op Dinsdag, 15 Mei aangekondig dat sy ministerie die ontginning van skaliegas in die Karoo wil bespoedig.

Volgens Mantashe kan dit die energie-ekonomie van Suid-Afrika drasties transformeer. Dié nuus kom slegs ’n maand nadat ’n woordvoerder van Shell, Dineo Pooe, erken het dat Shell die aantal werknemers wat betrokke is by die Karoogroep, drasties verminder het.

Karoo-inwoners kan dus nog lank nie ’n sug van verligting slaak dat dié omgewingstydbom finaal afgeweer is nie.

In die September 2017 uitgawe van Die Suid-Afrikaanse Joernaal van Wetenskap is uitgebreide studies gepubliseer waarin bewys is dat die ware skaliegasbronne in die Karoo nie 485 triljoen kubieke meter (tkm) is soos aanvanklik in 2011 beweer is deur die Amerikaanse Departement van Energie nie, maar veel eerder ’n skamele 13 tkm.

Die Universiteit van Johannesburg, die Suid-Afrikaanse Raad vir Geologie, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Portsmouth (in die Verenigde Koninkryk) het bevind dat die Karoo skaliegasneerslae nie net 37 keer minder is as aanvanklik geskat nie, maar dat dit “oorryp” is, wat beteken dat dit reeds tot ’n groot mate weggekook is.

Plaaslike en oorsese studies het reeds bewys dat hidrobreking (fracking) ondergrondse waterbronne vernietig en vergiftig, asook dat dit tot aardbewings lei in areas waar dormante aardkorsfoute versteur word.

Verskeie mynmaatskappye hou die wortel van werkskepping en ekonomiese opbloei aan armoedige gemeenskappe voor, ten einde dié gemeenskappe te oortuig dat hulle net kan baatvind by hidrobreking in die skone Karoo.

Wat egter verswyg word, is die feit dat verskeie landelike gemeenskappe wêreldwyd totaal vernietig is deur hidrobreking. Juis daarom is skaliegasontginning reeds in verskeie lande soos Duitsland, Frankryk en Bulgarye verban of onder moratorium geplaas.

Jonathan Deal, die uitvoerende hoof van Treasure the Karoo Action Group (TKAG) het aan Mid-Karoo Express gesê, “Ek is sedert 2011 betrokke by die anti-hidrobrekingsbeweging in Suid-Afrika. Minister Mantashe is die vierde Minister van Mineralebronne in sewe jaar, en ook die vierde minister wat wilde uitsprake lewer oor hidrobreking in die Karoo. Nie een van hierdie ministers het ’n begrip van die rampspoedige gevolge wat hidrobreking tot gevolg sal hê nie.”

Deal het voorts gesê dat dit hom dronkslaan dat die ministerie myntegnologie wil inspan wat ondergrondse waterbronne sal vernietig, en dít tydens een van die ergste droogtes in die geskiedenis van die Karoo en Oos-Kaap.

“TKAG en Afriforum sal elke moontlike wettige stap neem om te verseker dat geen hidrobreking plaasvind in die Karoo of enige ander deel van Suid-Afrika nie. Hierdie uitspraak van minister Mantashe is net nóg ’n desperate poging om stemme te wen in die 2019 verkiesing,” het hy bygevoeg.

“Plaaslike gemeenskappe moenie val vir die leë beloftes van werksgeleenthede wat deur maatskappye soos Shell, Bundu en Falcon aan hulle voorgehou word nie. Ek het al verskeie gemeenskappe regoor Amerika besoek wat totaal lamgelê is deur hidrobreking. Ons kan dit nie in Suid-Afrika toelaat nie.”

Mid-Karoo Express wou van Deal weet op watter wyse lesers kan help stem dikmaak teen hidrobreking.

“Sluit asseblief aan by Afriforum. Hulle is ons beste bondgenoot, en dui dan aan dat u maandelikse bydrae aan antihidrobreking toegeken moet word. Afriforum, TKAG en die boere van die Karoo sal hierdie stryd nooit gewonne gee nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.