DIE gewilde Theron du Plessis Mnr. en Mej. CHS het gisteraand in Cradock plaasgevind.
Hierdie jaarlikse spoggeleentheid is reeds wel bekend aan die inwoners van Cradock, asook die matriekleerders van die Hoërskool Cradock, wat reeds talle ure se voorbereiding ingesit het om ’n program op die planke te bring.
Op Donderdag, 22 Maart het die deelnemers hul eerste rondte beoordeling ondergaan tydens ’n Mocktail-geleentheid by die Victoria-hotel. Deelnemers en beoordelaars het vir die eerste keer ontmoet in ’n vyf-minuut vraag-en-antwoord sessie, waarna bemarkingsfoto’s van elk geneem is. Die opgewondenheid was duidelik sigbaar onder deelnemers én beoordeelaars, wat dit eens was dat enigeen van die 23 CHS-deelnemers vanjaar met die gesogte titel kan wegstap. Die organiseerders en borge van die Theron du Plessis Mnr. en Mej. CHS-geleentheid is opgewonde oor die nuwe fase wat die geleent-heid in 2018 bereik het.
Vanjaar sal die gaste van dié geleentheid ook die heel eerste Theron du Plessis Mini Mnr. en Mej.-kompetisie kan geniet.
Gr. 3-leerders van die Cradock Voorbereidingskool neem in hierdie afdeling deel en het reeds vroeg gewys dat hulle in gees en entoesiasme gelykstaan met die matrikulante van CHS.
Die “Frozen Fairytale”-tema het gesorg vir ’n see van sneeu en kristalle tesame met die skitterende glimlagte van al die deelnemers.
- Teen druktyd was die wenners van die kompetisie nog nie bekend nie.