DIE gesegde van moenie iemand op sy baadjie takseer nie, is al male sonder tal waar bewys.
En soms in gevalle wanneer jy gedink het jy is presies in die kol met jou eerste indrukke. Net om met ’n yslike hik aarde toe geruk te word.
Soos die keer toe Cradock se krieketspan genooi is om ’n vriendskaplike wedstryd op Hofmeyr teen die plaaslike span te gaan speel.
Dit was die eerste keer dat ek, en ek glo die meeste lede van die span, erg ontnugter is tydens die sosiale byeenkoms ná die wedstryd. Deur ’n man met ’n wit jas aan. En hy was nie eens die skeidsregter nie!
’n Ander geleentheid wat ook uitstaan was die keer toe ek in die laat sewentiger jare verslag moes gaan doen oor die verkoop van die klein Noord-Kaapse dorpie Boetsap.
Die dorpie wat ondermeer bestaan uit ’n aantal huise, kerk, ’n winkel of twee, is as geheel opgeveil en daar was nogal heelwat belangstelling uit verskillende oorde. Dis mos nie aldag dat ’n héle dorpie te koop aangebied word nie.
Die gevolg was dat joernaliste van heinde en verre opgedaag het om verslag te doen oor dié belangrike gebeurtenis. Daar was dus groot opgewondenheid toe die afslaer, hamer in die hand, op die podium verskyn en aankondig dat verrigtinge sou begin.
Aanvanklik was die manne, in pakke en dasse geklee, maar traag om te bie. Tot ’n bruingebrande omie in gekreukelde kakieklere en ’n hoed met ’n stowwerige sweetring daarom, skielik ’n aanbod maak.
Daar was onmiddellik ’n beroering onder die aanwesiges, ons joernaliste ingesluit. Wat probeer dié man bereik? Hy kan mos nie ernstig wees nie.
Tog wys die afslaer nie die aanbod weg nie, daar kom skielik ’n oplewing in die bieëry. Ons kon dit nie verstaan nie. Tree die oom namens iemand anders op? Of probeer hy net die prys opjaag? Hy het tog sekerlik nie die geld nie?
Toe niemand meer wou hoër nie, word die bod van etlike miljoene rand op die oom in die gekreukelde kakieklere met die sweetring-hoed, toegeslaan. Ons was verstom.
Net om later te besef dié stil omie is een van die rykste entrepreneurs in daardie geweste. Maar hy het nooit die nodigheid gesien daarin in om dit in sy kleredrag te wys nie.
Maar om terug te kom na die man in die wit jas. Ná die wedstryd is die twee spanne na die plaaslike hotel vir die gebruiklike sosiale verkeer. Ek wonder of die hotel nog bestaan, maar in daardie dae het baie mense van omliggende dorpe op Sondae soontoe gery vir die heerlike middagetes wat hulle aangebied het.
Nadat die twee spanne in die een sitkamer bymekaargekom het, het die man met die wit jas aan sy verskyning gemaak. En gesê hy kom neem gou die bestellings vir die drankies, die eetgoedjies kom nou-nou.
Ons was verstom dat hy nie ’n notaboekie by hom gehad het nie, maar elkeen het sy bestelling geplaas. En heimlik gedink hier gaan ’n paar argumente kom oor wie nie gekry het wat hy bestel het nie.
Onthou, daar was byna 30 mense wie se bestellings ons man in die wit jas moes onthou.
Ná so ’n klompie minute was hy terug, en stap reguit na een van die spelers en sê dat hulle ongelukkig nie die drankie het waarvoor hy gevra het nie. Wat is sy tweede keuse? Dit was op sigself reeds ’n openbaring!
Maar, die beste sou nog kom.
Nie lank daarna nie kom die man met ’n yslike skinkbord daar aan met die bestellings, en hy het vir elkeen van ons presies gegee wat ons bestel het. Sonder enige fout, en sonder om enigeen te vra wat hy bestel het. Sonder enige huiwering.
Wat ons span met ’n slag terug aarde toe gebring het, want almal was reg om, net vir die pret daarvan, yslik keel op te sit sou hy die verkeerde bestelling oorhandig.
Later het die spelers van Hofmeyr gesê hulle geniet dit altyd om besoekers se reaksie dop te hou wanneer hierdie besondere, nederige kelner, met sy witjas en vriendelike glimlag, sy uitstaande talent tentoonstel.
Iemand, wat sonder om enigsins te probeer impak maak, net weer bewys het dat dit ’n groot waagstuk is om ’n ander persoon sommerso, sonder feite, op sy baadjie, of sy wit jas, te takseer.