Moon se boekbekendstelling is dubbele viering

VIR Freeda Moon was Vrydag, 23 Maart, ’n dag wat sy vir altyd diep in haar hart sal koester.


VIR Freeda Moon was Vrydag, 23 Maart, ’n dag wat sy vir altyd diep in haar hart sal koester.

Nie net was dit vir haar ’n droom wat verwesenlik is met die bekendstelling van haar vierde boek, Selkie’s Promise nie, maar dit was ook sommer ’n dubbele viering aange- sien sy op Woensdag, 21 Maart verjaar het.

Hierdie viering is in die Langenhoven-biblioteek se mooi getooide saaltjie gehou.

Freeda, oftewel Mercia van der Vyver, se moeder Bets het die gaste verwelkom en ’n spesiale woord van welkom aan ds. Rudie Swanepoel en sy vrou Carina, al die pad van Johannesburg af, gerig.

Ds. Rudie het ’n paar woorde oor die “Miles for Mercia” liefdadigheid gesê (sien blokkie onder).

James Kennedy, self van Ierse afkoms en tans woonagtig in die dorp, het met sy Ierse aksent en ruimskootse humor vir die gaste meer vertel van die betekenis van sekere woorde, soos byvoorbeeld “Selkie”. Hy het vir Mercia die mooiste kompliment gegee deur te sê dat sy ’n goeie voorbeeld van ’n Ierse-storieverteller is.

Sandra Pansegrauw, die bibliotekaresse van die Langenhoven-biblioteek wie se breinkind dit was om die boekbekendstelling te reël, het deur middel van ’n skyfievertoning sommige van die plekke gewys waaroor Mercia in haar boek skryf. Sy het ook die betekenis van woorde soos “thin places” en “brigid knot” verduidelik.

Gerrie Scheepers het namens die ATKV gepraat en terselfdertyd genoem dat hulle graag ’n skrywersklub op Somerset-Oos wil begin aangesien daar groot belangstelling is.

Mercia se groot glimlag en glinsterende oë het gewys hoe gelukkig en ontspanne sy tussen haar vriende en gaste was en dat sy elke oomblik terdeë geniet het. Sy het al die boeke wat verkoop is, met haar vingerafdruk “geteken”.

Mercia het tydens die Mid-Karoo Express se besoek genoem dat haar beker van dankbaarheid oorloop en dat sy graag vir elkeen wat ’n bydrae tot die baie spesiale aand gemaak het, ’n groot dankie sê.

Van Mercia se vorige boeke, asook die jongste een is by die Langenhoven-biblioteek te koop.


Miles for Mercia-liefdadigheid

Ds. Rudie is ’n jare lange predikantsvriend van Mercia toe hulle mekaar op Bedford/Adelaide leer ken het. Hy het haar baie met haar skryfwerk en om haar droom te bewaarheid om Ierland te besoek, aangemoedig.

Saam met Mercia het hy die “Miles for Mercia” liefdadigheid begin. Die fondse wat hier gegenereer word, gaan aan mense wat, soos Mercia, serebraal gestremd is.

Hierdie liefdadigheid is in 2013 gestig as ’n “pay it forward”-inisiatief. Mercia was een van die eerste serebraal gestremdes wat hierby baat gevind het en sy ontvang steeds ondersteuning.

“Miles for Mercia” stap hand-aan-hand met die jaarlikse Comrades Marathon waar atlete per kilometer geborg word. Ds. Rudie hardloop van die begin af steeds elke jaar die Comrades om geld vir hierdie liefdadigheid in te samel.

You need to be Logged In to leave a comment.