’n MOTOR met ’n Kaapse registrasienommer het op Saterdag, 31 Maart, op Gill-Kollege se hokkieveld met sy neus in die grond geduik.
Die bestuurder het na bewering te vinnig in Hillstraat in die skool se rigting gery, oor Kollegeweg teen die sypaadjie vasgeskiet en toe tussen die lemmetjiesdraad en die hoë heining deur gevlieg om so ’n entjie van die hokkieveld se doelhok te lande gekom.
Volgens Eddie Sims van Gill-Kollege was daar twee insittendes in die motor, maar albei het ongeskonde daarvan afgekom.
Die bestuurder en die insittende is van Somerset-Oos. ’n Saak is by die polisie aanhangig gemaak.
Intussen is die heining ook weer herstel.
Die motor is die volgende dag verwyder en die toneel skoongemaak.
Generaal Jonas van die plaaslike polisie het gesê dat die saak ondersoek word.