Mula-projek vorder op Somerset-Oos

“IN Somerset-Oos is daar elke Maandag gemiddeld 200 leerders wat herwinbare rommel by die Swop Shop inhandig,” vertel Petro Terblanche.


“IN Somerset-Oos is daar elke Maandag gemiddeld 200 leerders wat herwinbare rommel by die Swop Shop inhandig,” vertel Petro Terblanche.

Die kinders neem herwinbare plastiek, papier, glas, karton en blikkies in. Dit word dan geweeg en punte word toegeken. Volgens die aantal punte word die aantal “mulas” toegeken en van al die berekeninge word deeglik boek gehou. Die kinders gebruik dan die mulas om vir hulle kos, klere, skoolbenodigdhede, seep en tandepasta en tandeborsels te koop.

Kos kry oor die algemeen die meeste aftrek en hieronder is Pilchards in tamatiesous, Imaya soya, pasta, suiker, rys en grondboontjie-botter bo-aan die lys.

Onlangs is drie komberse aan kinders uitgedeel wat meer as 50 mulas versamel het. Truie, handskoene en klere is as skenkings ontvang en dit is ook uitgedeel.

’n Vrag herwinbare rommel is in April by die Swop Shop gelaai en weggestuur.

Dit het uit die volgende bestaan: karton – 24 060kg; glas – 11 717kg, plastiek – 2 035kg en aluminiumblikkies – 1 677kg.

Vir ’n dorp so groot soos Somerset-Oos kan daar baie meer kinders by hierdie “groen” projek betrokke raak as wat tans die geval is.

Ouers word dus aangemoedig om hul kinders te stuur om herwinbare rommel op te tel en Maandae vanaf 14:00 vir mulas te gaan inhandig.

“Dis ’n wen-wen situasie vir almal. Dis pragtig om te sien hoe die kinders se ogies blink wanneer hulle hul aankope kan huis toe neem en ons moedig regtig meer kinders aan om deel te neem aan hierdie projek,” sê Terblanche.

Vir meer inligting bel haar by 083 740 7019.

You need to be Logged In to leave a comment.