Olive Schreiner was ’n baie eksen- trieke persoon, maar haar besluit om 1000 meter bo seespiëel begrawe te word, was seker een van die mees eksentrieke besluite wat sy geneem het.
Toe ek onlangs langs haar graf staan, het die vrou my laat wonder of sy daar wou lê waar niemand haar kan pla nie en of sy dalk besef het wat ‘n inspanning dit gaan wees om daar te kom.
Met my onlangse besoek het sy sekerlik, daar waar sy op haar wit wolkie sit, in haar blink gewaad se mou gelag toe sy sien hoe ek met stampe en stote by haar graf aanland. Dit was harde werk!
Ek het een keer tevore – dit was in die vorige eeu – ook Buffelskop, waar Olive Schreiner begrawe lê, besoek. Dit was saam met Stephen Mullineux wat soos ’n ribbok van klip tot klip gespring het terwyl die res van ons steun-steun die hoë berg bestyg het. Om af te gaan, was dit so sit-sit so teen die steiltes af.
Besoekers wat deesdae Schreiner se graf wil besoek, kan dit, tot so 300 meter onderkant die sarkofaag, met ’n viertrekvoertig doen. Vandaar af is dit nog ’n stywe klim oor reuse rotse en deur skeure tot bo.
Olive Schreiner, Suid Afrika se eerste gepubliseerde vroueskrywer, het tydens ’n uitstappie saam met haar man, die boer en later prokureur Cronwright Schreiner, hom laat belowe dat hy haar eendag op Bufffels-kop sal laat begrawe.
Trou aan sy belofte het hy na haar dood op 10 Desember 1920, en na sy eers, terwyl Cron oorsee was, in die Maitland begraafplaas begrawe is, reëlings begin tref vir die herbegrafnis op Buffelskop.
Hul dogtertjie, wat slegs ’n paar uur na haar geboorte gelewe het, en ’n hond, Nita, wat albei op De Aar begrawe is terwyl die Schreiners daar gewoon het, het op De Aar-stasie by die makabere prosessie aangesluit.
’n Tydjie voor die herbegrafnis sou plaasvind, het Josep Mann, wat gespesialiseer het in klipwerk, die ronde sarkofaag vir die herbegranis gaan bou. Hy het agterna vertel dat dit so koud was op die berg dat sy verf en sement verys het. Dit het hom en twee helpers veertien dae geneem om die werk te voltooi. Hulle het die volle twee weke op die berg gebly en is sestig pond (R120 in daai dae) betaal.
J T Schooling, wat vandag nog besigheid in Cradock doen, het die voorbereidings vir die herbegrafnis getref. Tien draers het die drie kiste Buffels-kop op gedra tot op die plato net onderkant die graf.
’n Groep van 33 mense, insluitend die draers, het die herbegrafnis bygewoon. Onder hulle was Maria Cronwright van Dijk, vier maande oue dogtertjie van die destydse eienaar van die plaas Buffelskoof.