’n Kersie vir eensame Sanna op Moedersdag

IN my stilhoekie het ek op Moedersdag twee kersies gelig. Een vir alle moeders en die tweede vir kinders wat in hul lewe nooit die vreugde van moederliefde ervaar het nie.


IN my stilhoekie het ek op Moedersdag twee kersies gelig. Een vir alle moeders en die tweede vir kinders wat in hul lewe nooit die vreugde van moederliefde ervaar het nie.

Hulle wat nooit deur ’n biologiese moeder teen haar bors vasgehou is nie. Nooit deur ’n eie ma geborsvoed, gebad of met geurige baba-olie uitgesmeer is nie. Net soos Sanna doer in my laerskooldae.

My eerste skoolbank het ek met Sanna as graadeentjie gedeel. Ek was dagleerder en sy koshuiskind van die Katolieke kloosterskool wat in daardie tyd deur die nonne met ’n ysterhand regeer is. Sanna was ’n kort, mollige meisie met skrefiesoë en roesbruin vlegseltjies wat langs haar besproete wangetjies afgehang het. Sommer van dag een af het sy diep in my brose kinderhartjie ingekruip. Iets waarop ek nie my vinger kon plaas nie het my soos ’n magneet na haar toe aangetrek.

Sanna het saam met die nonne in die klooster gewoon. Sy is glo soos die Bybelse Moses een koue wintersoggend in ’n verweerde biesiesmandjie op die klooster se voorstoep aangetref. Toegedraai in ’n paar flenter doeke en met ’n fopspeentjie in haar mond. Namate ons jaar ná jaar van grade verwissel het, het ons vriendskap sterker gegroei.

Sanna was altyd in die klooster se kombuis behulpsaam en het gereeld vir my van die lekker grondboontjiebotter-toebroodjies gegaps wat pouses aan die koshuiskinders uitgedeel is. Op my beurt het ek haar bederf met vrugte wat ek saans onder die dekmantel van donkerte uit ons dorp se vele tuine vasgelê het. Op ’n dag moes ons vir ons ma’s Moedersdagkaartjies maak. Uit die hoek van my linkeroog het ek ge-sien hoe ’n traan op Sanna se tekenvel drup. In my hart het ek begeer om haar in my arms te neem en teen my bors vas te druk, maar omdat ek geweet het dat fisiese kontak tussen seuns en meisies met ses van die bestes strafbaar was, het ek die idee laat vaar.

Sanna is, nadat sy maagpyn vir haar huilery die skuld gegee het, ’n dop kanferwater ingejaag. Maar diep binne my het ek geweet dat kanferwater nie verligting aan die pyn weens die gebrek aan moederliefde sou bring nie.

Veral vakansietye het my hart vir Sanna gebloei. Dan het motors van oor die hele land heen by die klooster opgetrek. Moeders sou dan liefdevol hul kinders wat hulle maande laas gesien het, soen en omhels. Dit terwyl Sanna hulle met betraande oë gadeslaan. Teen die einde van die dag was nie ’n lewende siel meer in die koshuis se gange sigbaar nie. Net Sanna. Stoksielalleen. Niemand het haar kom haal nie en sy het nê-rens gehad om na te gaan nie.

Wanneer ek saans gaan slaap, het haar hartseeroë my wakker gehou. Dan het ek gewonder hoe ’n ma so harteloos kon wees om ’n kind netso aan haar lot oor te laat. Ons paadjies het in die vroeë sewentigs geskei nadat ons ons agste graad by die kloosterskool voltooi het. Danksy Sanna het ek een aand in die eensaamheid van my kinderbedjie my Skepper gevra om my te seën met ’n gesinsopset waar ek my kinders met liefde en sorg sou grootmaak.

Telkens op Moedersdag kom spook Sanna by my. Wonder ek of sy ooit die vreugde van ’n eie kind in haar arms ondervind het? Een vir wie sy die aandag en liefde kon gee wat haar nie beskore was nie . . .

You need to be Logged In to leave a comment.