Nadia vertel hoe jou tuin kan baat uit waterstofperoksied

NADIA Bosch, sameroepster van Landbou van die Hofmeyr se VLV-tak het die lede onlangs vertel hoe sy doodgewone waterstofperoksied (hydrogen peroxide) – wat gewoonlik in haarsalonne of in dokters se spreekkamers gebruik word – in haar tuin met groot s


NADIA Bosch, sameroepster van Landbou van die Hofmeyr se VLV-tak het die lede onlangs vertel hoe sy doodgewone waterstofperoksied (hydrogen peroxide) – wat gewoonlik in haarsalonne of in dokters se spreekkamers gebruik word – in haar tuin met groot sukses gebruik.

Wanneer sy plantjies uitplant en vind dat die wortelstelsel in ’n koek saamgebondel is onder in die potjie, gooi sy ’n verdunde mengsel van waterstofperoksied en water oor die plantjies.

Die peroksiedmengsel veroorsaak dat lugborrels vorm en dit help weer die plant se wortels om voedingstowwe te absorbeer.

Sy gebruik ook graag verdunde peroksied om haar tuingereedskap te ontsmet.

“As jou plantjies siek is, steek jy maklik self die plantjies aan met die kieme wat jy oordra van een siek plantjie na ’n gesonde plantjie.

“Potplantgrondmengsel wat jy by jou kwekery ten duurste aankoop, het soms ook kieme in wat jy aan jou eie potplantjies kan oordra.

“Maak jou potplantgrondmengsel sakkie oop, meng twee teelepels peroksied met twee koppies water en sproei dit oor die potplantgrondmengsel,” is Bosch se raad.

Sy het ook gesê dit moet goed droog word. “Die kieme wat oorgedra kon word vanaf die kwekery, waar talle kieme gevestig kon raak, is uitgeroei voordat jy jou kosbare plantjies daarin plant. Die peroksied is onskadelik op jou plante.”

Gekoopte saad wat nie wil ontkiem nie, kan gerus met ’n mengsel van 3% peroksied en water behandel word. Laat week die saad vir drie uur en spoel dan goed af met lopende water.

“Jou plantjies sal vinniger ontkiem en ook baie vinniger en gesonder groei. Plaas jou saadjies in ’n sif en maak ’n mengsel met twee teelepels peroksied en een koppie water en gooi die mengsel oor jou saadjies. Week saadjies agterna met skoon water en hou klam.”

Bosch het die volgende resep gegee om die wortelgroei te bevorder: twee teelepels peroksied en drie liter skoon water – giet dit rondom jou plante en gooi daarna ge-noeg skoon water om die mengsel tussen die wortels uit te spoel.

Vir swaminfeksies in jou plante kan jy ook peroksied gebruik en agterna met skoon reënwater afspoel.

Gebruik dit ook as insekweerder, maar verdun met baie water.

Gebruik 10% peroksied saam met water en dit sal insekte wat jou plantjies wil vernietig, doodmaak.

Waterstofperoksied is beskikbaar by die meeste apteke.

You need to be Logged In to leave a comment.