Net emmers vir brand

CRADOCK se brandbestryders moes voorverlede Vrydag inderhaas emmers en ander houers by omstanders leen toe ’n brand in die industriële gebied buite beheer geraak het.


CRADOCK se brandbestryders moes voorverlede Vrydag inderhaas emmers en ander houers by omstanders leen toe ’n brand in die industriële gebied buite beheer geraak het.

Volgens ’n omstander was die brandweermanne heel betyds op die toneel, maar moes hulle die vuur met die emmers water doodgooi aangesien nie een van die brandweerslange water kon spuit nie.

Na verneem word is die enjin wat vir die groot brandslang water pomp, reeds ses maande buite werking, terwyl die kleiner brandslang se motor nou ook buite werking is.

’n Stoorman van AgriCol, ’n saadverspreider wat baie naby aan die brand was, het op sy eie, en as voorsorgmaatreël, self die oop veld langs hul stoor begin natgooi.

Die brand het vermoedelik begin toe kabeldiewe die omhulsel van koperdraad wou afbrand voordat hulle dit aan ’n skroothandelaar kon verkoop.

Die wind het egter opgekom en die vuur het buite beheer geraak. Die verdagtes het van die toneel af weggehardloop.

Nadat Roland Hare, hoof van verkeer vir Inxuba Yethemba munisipaliteit en brandweer vir Chris Hani Distriksmunisipaliteit, ten spyte van drie telefoonoproepe nog nie gereed was om kommentaar oor die brandweer-situasie te lewer nie, het Mid-Karoo Express verlede week besluit om self ondersoek te gaan instel.

Op die perseel was drie brandweermanne besig om die brandweerwa te was. Omdat hulle nie amptelike woordvoerders van die brandweer is nie, word hul name nie genoem nie,

Hul hoof moet glo twee dae per week op Middelburg aanmeld waar hy ook in bevel van daardie dorp se brandweer is.

Die brandweerhoof se kantoor het net ’n leë lessenaar met geen landlyn-telefoon of rekenaar, twee rusbanke, ’n tafel en ’n yskas in gehad.

Die vertrek langsaan, wat vermoedelik die ruskamer vir die brandweermanne behoort te wees, was gepak met ’n warboel van kartondose wat lyk of dit lisensie-aansoeke bevat.

Die brandweermanne, drie op Cradock en drie op Middelburg, is 24 uur elke dag aan diens aangesien drie persone nie in skofte verdeel kan word nie.

Ná hierdie besoek kon Mid-Karoo Express vasstel dat Cradock brandweer gemiddeld 12 tot 15 keer per maand uitgeroep word en ook dat van die kleiner dorpies om Cradock oor geen brandweerdienste beskik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.