MID-KAROO EXPRESS het onlangs weer by saxofoonspeler Darren Jacobus gaan kuier nadat hy teruggekeer het uit New York.
Darren het van 3-12 Julie dié wêreldstad besoek om deel te neem aan die 45ste Talent America-kompetisie. Dié eer het hom te beurt geval nadat hy as algehele wenner in die senior-afdeling van die Talent Africa-kompetisie aangewys is.
Vanjaar se Talent America-be-oordelaars was onder andere die vervaardigers van America’s Got Talent, The Four Show, en mu- siekdirekteur Bob Marks, onder wie kunstenaars soos Ariana Grande en Britney Spears groot sukses behaal het. Die beoordelaars was baie ingenome met dié nederige jong man uit die Karoo, en Darren het uiteindelik twee silwer en twee goue toekennings ontvang, laasgenoemde vir sy vertolkings van “Georgia on My Mind” en “Havana”. Om die kroon te span, is Darren ook aangewys as afdelingswenner van instrumentaliste in die ouderdomsgroep 18-24 jaar.
Ná afloop van die kompetisie het Darren ook die geleentheid gehad om by Caelum Music Production Studios, Long Island, aan ’n paar opnames te werk. “Dit was nogal senutergend, want ek moes improviseer saam met ’n tromspeler, pianis en sanger. Gelukkig kon ek dit regkry, en dit was vir my baie lekker.”
Mid-Karoo Express het Darren gepols om meer te vertel van sy New York-belewenis. “Dit is regtig die stad wat nooit slaap nie, soos hulle sê,” vertel hy. “Ek was veral beïndruk met die straatmusikante – hulle is regtig ongelooflik goed, en behaal sukses vanweë sosiale media en YouTube.” Die talentvolle Darren lag toe Mid-Karoo Express wou weet of hy nie self in die versoeking is om sy geluk as straatmusikant te gaan beproef nie: “Ek is! Maar my ouers voel ek is nog jonk. My familie hou my voete op die grond, en ek dink dit is goed dat ek die ge-leentheid het om eers plaaslik ervaring op te doen as kunstenaar.”
Tans oefen Darren hard. Hy beplan om ’n oudisie af te lê by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste (SACOPA), en word ook gereeld gevra om as gaskunstenaar by funksies op te tree. In Middelburg sal hy onder meer te siene wees by die Country Fest in September, sowel as by die ATKV-koorfees op 18 Oktober.
Op die vraag of hy daarvan sal hou om eendag ’n solo-album op te neem, antwoord Darren gretig: “Ek wil mense graag inspireer, hulle seën met dit wat ék ontvang het, my storie vertel en ’n boodskap lewer.”