CRADOCK Moederkerk se NG-gemeente hou op 22 Mei hul jaarlikse gemeentefees.
Volgens die organiseerders gaan dit weer ’n groot geleentheid wees en kan daar, soos die verlede, tot 1 000 skape en 200 beeste onder die hamer kom.
Erik Lombard, die organiseerder, sê hulle verwag weer rekordpryse, veral omdat dit vanjaar goed in die distrik gereën het en die vee in puik kondisie sal wees. Bestellings gaan by sake-ondernemings opgeneem word en die pannekoeke, worsrolle en so meer sal dan die oggend van 22 Mei, volgens bestellings, by die ondernemings afgelaai word.
Op die terrein sal onder meer ook boerewors en sosatierolle, jaffels, kerrie-en-rys en poeding te koop aangebied word.
Iets wat elke jaar by die gemeentefees groot belangstelling uitlok is die moontlikheid dat ’n gelukkige kaartjiehouer ’n bees, skaap of vark kan wen. Kaartjies is reeds, teen R100 vir ’n bees en R20 elk vir ’n vark of skaap, beskikbaar.
Een van die groot geleenthede vir die Hoër Landbouskool Marlow se seuns is die kerk se bederfete.
Op elke dag van die gemeentefees, word hulle jaarliks trakteer met hamburgers, braaivleis, poeding en koeldrank. Die Marlow-seuns speel ’n groot rol in die gemeente se bedrywighede en gaan ook die aand van die fees, wat met ’n steakbraai afgesluit word, die braaiwerk doen.
Cradock se NG-gemeente is vanjaar 200 jaar oud, terwyl die statige Moederkerk op die Markplein op 10 September in dieselfde jaar 150 jaar oud sal wees.
Om die ontstaan van die gemeente te her-denk word ’n uitgebreide program vir volgende maand beplan.
Volgens ds. Corné Slabbert sal hierdie program op 1 Junie begin met ’n musiekprogram waaraan skoolkore en ander talentvolle musikante sal deelneem.
Van 3 tot 8 Junie sal daar elke aand om 18:00 ’n Pinksterdiens in die Moederkerk wees wat vanjaar gelei sal word deur ds. Johannes Nortier, vorige leraar van die gemeente en tans van Agter-Paarl.
Daar sal elke aand ná die diens sop en toebroodjies bedien word. Hy het ook gesê Vry-dagaand se biduur sal om 19:30 gevolg word deur ’n dans by óf The Palms óf by Buffels-hoek.
Saterdagaand sal die gemeente ’n semi-formele dinee in die kerksaal aanbied wat beloof om ’n lekker kuieraand te wees waar staaltjies, stories oor die geskiedenis en grappige aangeleenthede in die kerk se ge-skiedenis vertel sal word. By hierdie ge- leentheid sal daar ook ’n olieverfskildery van die kerk deur bekende plaaslike skilder, Lou Venter, ten bate van die kerk opgeveil word.
Sondagoggend word die naweek se verrigtinge met ’n interkerklike diens, wat deur Slabbert gelei sal word, afgesluit. Koek en tee sal ná afloop van die diens in die tuin bedien word.