DIE NG Kerk Middelburg Karoo het hul jaarlikse dankfeesbasaar op 10 Maart gehou.
Van vroegmôre reeds kon daar vir ontbyt in die pastorietuin aangesit word. Proponent Hannes Heyneke het spesiaal die naweek na Middelburg gekom om die verrigtinge te open en in ’n tipiese tradisionele karoo-basaar te deel.
Die geur van braaivleis, sosaties en varsgebakte pannekoek het verseker baie besoekers van die straat ook gelok om in die feestelikheid te kom deel.
Die saal was vrolik opgemaak met vlaggies en versierings en tot oorlopens vol van vars gebak, basaarpoeding, vleisprodukte, kindervermaak en verskeie ander lekkernye.
’n Hartlike dank het aan elkeen gegaan wat ’n bydrae gelewer het en wat dié jaarlikse instelling ’n reuse sukses gemaak het. Wat is ’n dorpie dan nou eintlik sonder ’n basaar?