NGO bied veiligheid vir vroue in Middelburg

VOLGENS onlangse statistiek oor moord op vroue, verkragting en huishoudelike geweld, blyk dit dat genoemde misdade teen vroue drasties toeneem in Suid-Afrika.


VOLGENS onlangse statistiek oor moord op vroue, verkragting en huishoudelike geweld, blyk dit dat genoemde misdade teen vroue drasties toeneem in Suid-Afrika.

Volgens die Suid-Afrikaanse 2016 Bestekopname van Demografie en Gesondheid, was een uit elke vyf vroue die slagoffer van fisiese geweld. Die syfers is egter selfs hoër in arm huishoudings, waar ten minste een uit drie vroue onderwerp is aan geweld en mishandeling.

Skokkende syfers het ook getoon dat vroue lank in sulke verhoudings bly omdat hulle geen inkomste of ander heenkome het nie. Teen dié agtergrond verrys daar tans in Middelburg ’n fasiliteit wat sulke vroue se hoop op ’n nuwe lewe, ’n werklikheid maak.

Nadat Marnene Smit vir baie jare paramediese opleiding in Pretoria by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Dienste gegee het, was sy gereed vir iets anders. Sy het reeds ’n paar keer vantevore tydens uitreike op Middelburg aangedoen, en kort voor lank het sy haarself sak en pak hier bevind.

Smit is aangewys as die projekbestuurder van Hands On Africa: City of Refuge wat, soos die naam sê, ’n plek van veiligheid en restourasie is. Mid-Karoo Express wou by haar meer te wete kom.

“Hands On Africa, ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, het in November 2014 besef daar is ’n groot gaping in die praktiese bediening onder vroue. Ons was gelukkig om die nodige eiendom en geboue te bekom en beoog om uiteindelik 40 vroue (en waar nodig ook hul minderjarige afhanklikes) te kan akkommodeer by City of Refuge,” het sy gesê.

“Hier wil ons ’n gesonde, rustige, liefdevolle omgewing skep waarbinne ons mishandelde vroue, hawelose weduwees en vroue wat pas uit rehabilitasie ontslaan is, kan help om te genees, sodat hulle uiteindelik weer tot die samelewing kan toetree met ’n gesonde selfbeeld, positiewe lewensuitkyk en die nodige bemagtiging om finansieel onafhanklik te kan wees.

“Ons beywer ons ook vir versoening met geliefdes en verskaf ondersteuning waar nodig, sodat moeders met hul kinders herenig kan word. Ons eerste “suksesverhaal” is reeds weer ten volle geïntegreer in die samelewing en heraangestel in die pos wat sy vantevore beklee het,” het Smit vertel.

“Daar word ’n pad gestap met elke vrou, en ons bedien hulle onomwonde met die Woord. Mishandeling lei baie dikwels tot dwelmverslawing, omdat slagoffers wil ontvlug aan die wreedheid van geweld en langdurige aftakeling van hul selfbeeld. Ek glo mens moet die dag van klein begin hoog ag, want uit een saadjie kom ’n groot oes!”

Smit werk tans aan ’n nagraadse kwalifikasie in berading. Belangstellendes of mense wat betrokke wil raak, kan hulle werksaamhede op Facebook volg by City of Refuge Home for Women of Marnene by 083 273 6771 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.