Nog geen lig aan die einde van die tonnel vir Eskom skuld

TYDENS die afgelope munisipale raadsvergadering wat in KwaNonzame gehou is, het die munisipale bestuur van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit min lig gewerp op die omstandighede waaronder Middelburg se Eskom-rekening tot R60 miljoen opgeloop het, ter


TYDENS die afgelope munisipale raadsvergadering wat in KwaNonzame gehou is, het die munisipale bestuur van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit min lig gewerp op die omstandighede waaronder Middelburg se Eskom-rekening tot R60 miljoen opgeloop het, terwyl Cradock se rekening skoon is.

Dié spesiale raadsvergadering is belê nadat Eskom te kenne gegee het dat Middelburg vanaf 30 Oktober aan beurtkrag onderwerp sal word, as gevolg van wanbetaling deur die munisipaliteit.

Volgens ’n raadsbesluit sal munisipale bestuurder Zolela Msweli en hoof-finansiële beampte Lucky Mulaudzi vandeesweek samesprekinge voer met die burgemeester van Chris Hani-distriksmunisipaliteit in die hoop om (soos vantevore) finansiële hulp vandaar te kry. Burgemeester Ray Shweni sal ook briewe rig aan die Premier van die Oos-Kaap, COGTA en die departement van finansies.

Lede van die publiek is tydens die vergadering deur raadslid Thembisile Bobo verseker “die ligte sal nie afgeskakel word nie”.

Engela Kruger, voorsitter van Middelburg Forum, is minder optimisties.

“Ons het géén reaksie van die munisipale bestuur ontvang op ons prokureursbrief oor hierdie aangeleentheid nie. Daar is geen verduidelikings gegee oor wát die munisipaliteit gemaak het met ál die elektrisiteitsinkomste wat hulle elke maand van Middelburg ontvang nie,” het sy gesê.

“Dit is tog nie moontlik dat niemand in Middelburg elektrisiteit betaal, terwyl Cradock 100% op datum is met húlle rekeninge nie? Die Forum verteenwoordig besigheidslui en belastingbetalers van Wyk 7, 8 en 9 in Middelburg. Ons het die volste reg om insae te hê in die finansiële bestuur van ons munisipaliteit.

“Ons rig skrywes en maak oproepe na die munisipale bestuurder, die burgemeester, die hoof van finansies, die eenheidshoof in Middelburg én die wyksraadslid van Wyk 9, Vuyisile Bene. Maar hulle ignoreer ons blatant.

“Hulle volgehoue arrogansie ten opsigte van verskeie dringende sake verbreek alle vertroue wat daar kon wees tussen inwoners en die munisipale bestuur. Dit is duidelik dat hulle nie bekwaam is om finansies met verantwoordelikheid te bestuur nie,” het Kruger gesê.

’n Lid van die publiek wat die raadsvergadering bygewoon het, het aan Mid-Karoo Express gesê, “Die burgemeester se woorde was dat mense nie op loop hoef te gaan oor die beurtkrag waarvan hulle in die media gelees het nie, en dat dit niks is om oor opgewonde te raak nie.

“Dit is ontstellend om te sien dat die munisipale bestuur géén begrip het vir die krisis wat besigheidslui in die gesig staar as ons krag gesny sal word nie!”

’n Spesiale raadsvergadering sal mid-Oktober belê word waartydens terugvoer gegee sal word oor bogenoemde pogings van die munisipale bestuur om finansiële hulp te bekom.

You need to be Logged In to leave a comment.