DIT gaan goed met Cradock se takbokke wat na raming al meer as 90 jaar deel van die dorp is.
Hierdie Orient-takbokke is ’n kleiner spesie as gewone takbokke en is aanvanklik in die dorp se park aangehou. Die park, waarin daar baie jare gelede verskeie soorte bokke, bobbejane, apies, volstruise en ’n verskeidenheid kleiner voëlsoorte, asook spuitfonteine met gekleurde vissies was, was ’n groot uitspanplek vir inwoners. Daar is gereeld op die grasperke piekniek gehou en na die diere gekyk wat in hokke in die sentrale deel van die park aangehou is.
Volgens Dolf van Loggerenberg, wat vir baie jare lid van die munisipale personeel was, is al die diere gedurende die laat 1950’s na plase en ander gebiede verskuif en is die takbokkies toe na die kamp bokant die hospitaal, waar die dorp se waterwerke is, verskuif. Bergskilpaaie is ook na die kamp verplaas asook eende wat in ’n watergat losgelaat is.
Die diere is destyds uit die park verskuif omdat daar besluit is dat Frikkie Muller, die destydse park-opsigter, liewer blomme en groente vir die mark moes kweek.
Die parkopsigter se huis en alles wat in die ou park gestaan het, het met die vloed van 1974 – toe die Groot Visrivier sy walle oorstroom het – weggespoel.
Intussen gaan dit goed met die takbokke en is daar hierdie somer twee kleintjies gebore. Die geslag van die twee bokkies is nog nie bekend nie.
Ná al die reën wat in die omgewing geval het, is die bokkampie ’n lushof. Die bokke is veral versot op die Suid-Wes-doringbome met hul lang peule wat daar groei.
Die bokkies word egter ook bederf deur inwoners van die omgewing wat hulle voer en boere wat lusernbale en groente vir hulle aflaai.
Al probleem wat op die oomblik in die bokfamilie heers is dat daar sewe ramme en slegs twee ooie is. Van Loggerenberg vertel dat hierdie wanbalans ook al vroeër voorgekom het. Dit is toe opgelos deur boere wat van die ramme gevang en geruil het vir ooie. Dit sal ook help om die bloedlyn te suiwer.
Belangstellendes kan met Gerhard le Roux by 083 288 2774 in verbinding tree.

