MET die onlangse uitbreek van die gevreesde listeriose is dit deesdae veiliger om self wors of polonie te stop en dit is ook glad nie duur nie.
Mid-Karoo Express korrespondent NOLAN VENTER het besluit om sy sultresep, wat hy in sy kinderdae van sy oorlede ouma met sy oë gesteel het, te deel. Volgens hom, bly dit ’n wenner op ’n broodjie en kan ook met ’n doopsousie maagwaarts gestuur word.
Bestanddele:
4 skoongekrapte beespote
2 varkskenkels (sonder kloutjiegedeelte)
500g beesskenkelvleis
3 hoenderekstrak-blokkies
2 fyn gekapte uie
1 fyn gekapte groenrissie
2 eetlepels gemengde knoffel en gemmer
1 teelepel dahniapoeier
2 eetlepels vars tiemieblaartjies
200ml kookolie
125g aromat
20g wit peper
1 eetlepel masala
1 teelepel borrie
2 groot poloniesakkies
2 dun kabelstrikkies
2 groot vraagteken hakies
Metode:
- Verdeel elke beespoot in twee by die voet se lit.
- Kook die pote tot die vleis van die bene loskom. Doen dieselfde met die varkskenkels in ’n aparte pot.
- Kook die beesskenkelvleis in ’n derde pot tot dit sag is.
- Verwyder al die bene uit die beespote en varkskenkels.
- Verhit die olie in ’n groot kastrol of ysterpot. Braai die uie en groenrissie tot ligbruin.
- Voeg die masala, borrie, dahniapoeier, gemmer, knoffel en hoenderekstrak-blokkies by en roer dit goed deur op ’n lae hitte.
- Gooi nou al die vleis in die kastrol en roer dit deur met ’n houtlepel totdat die pot begin prut.
- Gooi die vars tiemieblaartjies by en geur die mengsel met die aromat en peper.
- Indien nodig, voeg gewone tafelsout by volgens smaak.
- Sit die pot eenkant om af te koel.
- Skep die oortollige olie bo in die pot af en gooi die afgekoelde sult in die poloniesakkies tot so 80% vol voor dit begin stol.
- Draai die gevulde sakkie regsom tot die inhoud styf daarin pas en verseël dit met kabelstrikkie.
- Hang dit oornag vertikaal aan ’n vraagteken hakie om te stol.
- Plaas dit die volgende dag in ’n yskas. Jou sult is nou gereed om te geniet.