FRANCOIS Mattheyse (28) van Somerset-Oos was ’n week of twee gelede een Vrydag-aand vanaf Cradock op pad huis toe, toe hy tussen Kookhuis en so 5km vanaf Somerset-Oos in ’n koedoe vasgery het.
Die koedoe het sy Golf Velocity getref en die voorruit en van die ander ruite in stukke laat spat. Volgens sy pa, Johan Mattheyse, was hy baie gelukkig om met net geringe beserings daarvan af te kom.
Hy het ’n gat agter sy oor, die oor het afgeskeur en hy het glas in sy een oog gekry. Hy het dadelik na die Andries Vosloo-hospitaal op Somerset-Oos gery waar die oor weer geheg is.
Die volgende dag is hy na Port Elizabeth waar ’n oogspesialis die glas uit sy oog verwyder het.
“Francois is werklik gelukkig dat hy al weer normaal kan sien en dat hy sy werk as elektrisiën by Slabbert Elektriese Dienste op Somerset-Oos kon hervat. Die Golf het skade aan die dak opgedoen, maar die skade is darem nie oorweldigend nie,” aldus Johan.
Francois onthou dat toe hy dorp toe ry, hy gesien het hoe ’n motor naby die koedoe ’n U-draai in die pad maak. Hy het sy vriend gestuur om te gaan kyk of die koedoe nog daar is en toe dié 15 minute later op die to-neel kom, was die koedoe reeds verwyder.