THEO en Judith Kleinhans het in Junie 2015 vanaf Nelspruit na Noupoort verhuis.
Volgens Theo was Noupoort vir hulle ’n strategiese keuse – naby genoeg aan Bloemfontein asook aan Port Elizabeth.
Hulle het toe hul mosaïek- en loodglas-studio in Nelspruit ver-koop en die Karoo hul nuwe tuiste kom maak.
Op Noupoort het Theo en Judith weer ’n kunswinkel en -gallery, Art @ Noupoort, by hul huis begin waar hulle ook klasse in verskeie kunste soos pottebakkery, mosaïek, loodglas, pewter ensomeer aanbied.
Aan die begin van 2018 het hulle ’n projek geloods om Noupoort te laat herleef. Tesame met die ATKV is daar eerstens besluit om die Noupoort-ingangsmuur oor te verf met ’n tema eie aan die Karoodorpie.
Die ontwerp is deur Theo self gekies en ’n plaaslike kunstenaar, Selwyn Booysen, het dit op die muur geverf.
Hulle wil graag die plaaslike talent ontgin, of verbeter, en dis be-langrik dat die inwoners betrek word, om sodoende die belangrikheid te sien van bewaar en nie vernietig nie.
Die verf is deur Theo en Judith voorsien, terwyl die ATKV vir Selwyn betaal het.
Die plaaslike munisipaliteit van Noupoort het ook ’n bydrae in die vorm van groot dromme gemaak wat tans deur Theo geverf en ver- sier word.
Die dromme sal dan op strategiese plekke in die dorp geplaas word om vullis in te gooi.
’n Ander groot plan wat Theo en Judith het, is om die geboue in die hoofstraat van Noupoort te verf, maar aangesien dit aan privaat eienaars behoort, sal hul eers die nodige toestemming van die besigheidsmense en eienaars moet kry.
Hierdeur sal die ingang na Noupoort opgevrolik word en sal dit voorwaar ’n goeie advertensie vir die dorp wees.