As jy vriende of familie in die stad het wat jy graag wil teruglok platteland toe, is Julienne du Toit en Chris Marais se nuwe boek, Moving to the Platteland net die ding om vir hulle te stuur.
Du Toit en Marais, twee Johannesburgse skrywers, wat hulle tien jaar gelede op Cradock kom vestig het, is bekende joernaliste, skrywers vir glanstydskrifte asook die outeurs van boeke soos Shorelines, Coast to Coast, Karoo Keepsakes I en II en Roadtripper. Hulle het Moving to the Platteland by die onlangse Schreiner Skrywersfees bekend gestel.
Hierdie twee skrywers het nou, met hul nuutste boek, al die voordele, probleme en – in ’n mindere mate – die nadele van stadsjapies wat hulle op ’n klein dorpie kom vestig, uitgelig. Soos al hul boeke is die een ook ryklik geillustreer met Marais se besonderse foto’s.
In die boek word daar in een-en-twintig hoofstukke breedvoerig vertel hoe jy jou nuwe blyplekkie moet vind en terselfdertyd gewaarsku dat die eerste klein dorpie wat jou aandag trek, dalk nie die regte plek vir jou sal wees nie.
Baie van die talle stedelinge met hoë profielwerke wat hulle deur die jare op die platteland kom vestig het, is vandag kunstenaars, gastehuiseienaars, tuiniers of bloot mense wat die stilte en rustigheid rondom hulle geniet terwyl ’n stokperdjie uitgebrei is tot ’n besigheid.
Baie ander, soos skrywers en aandelemakelaars, is steeds met hul stadswerk besig wat met dieselfde sukses bedryf word – maar net voor ’n rekenaar in ’n rustige plattelandse huisie.
Du Toit en Marais het letterlik die land platgery om onderhoude met mense te voer wat reeds die stad vir die platteland verruil het. Hierdie stories sluit ook hul eie storie in en Du Toit vertel van die voor- en nadele wat hulle besluit beinvloed het.
Dit vertel die stedeling ook rondborstig waarsonder hy sal moet klaarkom, wat die probleme gaan wees wat opgelos moet word, maar wat alles gebalanseer word met rustigheid, buurmanskap, vars lug en die nabyheid van die natuur. Moving to the Platteland en al die skrywers se ander boeke, kan in gedrukte vorm of as E-boeke van www.karoospace.co.za bestel word.