NÁ Deon Bekker se aftrede as skoolhoof by die Laerskool Gill in 2017, is Louis Johannes Nel, wat toe as hoof van die departement (HOD) by die skool gewerk het, as waarnemende hoof aangestel.

Op 1 November 2017 is hy as skoolhoof aangestel.

Nel is op 13 November 1966 in Nongoma, Zululand, gebore. Hy het by die Laerskool Melmoth skoolgegaan en in 1984 aan die Hoërskool Port Natal gematrikuleer.

Hy het eers sy twee jaar diensplig in die weermag gedoen en het daarna ’n vier jaar kursus by die Durbanse Onderwyskollege (Dokkies) begin. Sy eerste onderwyspos was in 1991 by die Laerskool Veldenvlei in Richardsbaai.

Rugby se stem was egter harder as die onderwys s’n en so het hy eers vir ’n jaar rugby in Australië gaan speel. Hierna het hy weer skool by die Veldenvlei Primêre Skool gehou en in 1994 met sy studente-liefde, Marilet, ge-trou. Hulle het twee seuns, Johan (gebore in 1995) en Hardus (gebore in 1997).

Saam het hulle by Veldenvlei onderwys gegee tot in 2000 toe hy as HOD by Ricardia Primêre Skool, ook in Richardsbaai, aangestel word. Later het hy ook vir ’n jaar as onderhoof by Ricardia waargeneem.

Albei sy seuns was in die Laerskool Gill. Hulle studeer tans aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontien. In sy vrye tyd geniet hy visvang – see of vars water. Voorts kyk hy graag sport op TV.

Hy erken sy passie is om met kinders van alle ouderdomme te werk. Hy geniet ook die alledaagse uitdagings wat met onderwys gepaard gaan.

“Ek is trots om die skoolhoof van die Laerskool Gill te wees. My doelstelling vir die skool is om my alles te gee om dit die beste laerskool in die Oos-Kaap te maak. Met die hulp van my personeel, ouers en leerders is ek oortuig daarvan dat dit moontlik is.”

You need to be Logged In to leave a comment.