BELEGGERS en ontwikkelaars van die beplande privaathospitaal in Graaff-Reinet, voorlopig genoem die Great Karoo Samaritan Hospital, het op Woensdag, 27 Junie met inwoners en sakelui van dié Karoodorp vergader.
Die doel van die byeenkoms was om ’n aanduiding te gee van die vordering wat reeds gemaak is.
Aanvanklik is oorweeg om ’n perseel binne die dorp te benut, maar uiteindelik is ’n meer spasieryke area net buite die dorp aan die oewer van die Sondagsrivier bekom.
Dié perseel is inderdaad meer geskik vir so ’n groot ontwikkeling – die hospitaal sal uit-eindelik oor 100 beddens, vier teaters en verskeie konsultasiekamers beskik.
Tydens die tweede fase sal daar ’n leefstyl-aftree-ontwikkeling opgerig word. ’n Groot aantal personeelkwartiere vorm ook deel van die ontwikkeling en daarby moet voldoende voorsiening gemaak word vir parkeerplek.
Volgens die ontwikkelaar, Jakkie Pretorius, is die hospitaal se argitektoniese ontwerp in pas met die nuutste ontwikkelinge in uitleg van mediese fasiliteite. Boonop word die nuutste “groen” tegnologie ingespan om die omgewingsimpak van die hospitaal te minimaliseer.
“Ons gaan gebruik maak van ’n innoverende watersuiweringstelsel en water sal ekonomies verbruik en herverbruik word.”
Wat personeel betref, word daar reeds onderhandel met relevante medici en volgens die gesondheidskonsultant Catherine Brown, is daar baie professionele medici wat gretig is om hul kennis hier in die Karoo te kom toepas. Daar is ook heelwat spesialiste wat bereid is om op konsultasiebasis hul gewig by dié projek in te gooi.
’n Groot aantal pensioentrekkers is reeds opgewonde oor die vooruitsig van ’n leefstyl-aftreeoord gerieflik naby ’n privaathospitaal en dít in die lieflike Karoo-klimaat.
Mid-Karoo Express wou van Johann Carstens, algemene projekbestuurder, weet wanneer hulle verwag dat dié fase voltooi sal wees.
“Die totale ontwikkeling van hospitaal en aftree-oord is ’n baie groot projek en bouwerk is maar net een deel daarvan. Uiters deeglike beplanning word vooraf gedoen, vanaf risikobepaling tot die rompslomp van administrasie en onderhandelinge met al die relevante owerhede. Daarbenewens moet ons seker maak dat daar voldoende behuising vir al die nuwe personeel sal wees, en ons is uiters ge-steld daarop om opleiding te verskaf aan plaaslike inwoners. Ons finansier, Samaritan Healthcare, sowel as Macadamia Health Investments, het heelwat ervaring in die oprigting van mediese fasiliteite in landelike gebiede en ons is vasbeslote om ’n groot aantal werksgeleenthede te skep vir die plaaslike bevolking.
“Fase een van die ontwikkeling, die hospitaal, vorder uitstekend en ons glo dat ons teen Maart/April 2019 met bouwerk sal kan begin. Ons hoop om binne die volgende vyf jaar die tweede fase – die leefstyl-aftree-ontwikkeling – oop te stel,” het Carstens gesê.
Pensioentrekkers wat hul in die aftree-ont-wikkeling kom vestig, sal nie net die gerief van topgehalte mediese sorg op hul voorstoep hê nie, maar hulle ook verlustig in die argitektuur wat in outentieke Karoostyl gebou sal wees. Die aftree-ontwikkeling (met 24-uur sekuriteit) sal bestaan uit 200 voltitel wooneenhede elk op ’n 300m² erf, asook 80 deeltitel versorgingseenhede, ’n klubhuis en geriefswinkeltjie vir basiese behoeftes.