INXUBA Yethemba-munisipaliteit (IYM) se nuwe burgemeester en speaker is verlede week onder groot belangstelling in die Vuzubuntu-saal aan die gemeenskap voorgestel.
Noncedo Zonke, burgemeester, het in haar toespraak erken dat dienslewering in Cradock nie na wense is nie, dat die slaggate in die strate kommerwekkend is en dat ’n sekere groep inwoners besig is om die dorp se nasionale erfenis te verwoes.
Sy het bekendgemaak dat ’n weegbrug in Middelburg opgestel gaan word wat sal verhoed dat die geweldige swaar voertuie langer die dorp se swak infrastruktuur verder sal verniel.
Zonke het ook aangekondig dat die meentgrond rondom die dorp opgradeer gaan word sodat opkomende boere dit kan benut. Sy het ook melding gemaak van plaaspaaie wat in ’n geweldige swak toestand is.
Die nuwe speaker, Nyameka Goniwe, wat gedurende ’n vorige termyn burgemeester van Cradock was, het gedurende die bekendstelling gesê dat die nuwe leiers van Inxuba Yethemba-munisipaliteit sterk vroue is in eie reg en dat hulle nie die mense van Cradock en Middelburg gaan teleurstel nie.
“Ons is hier om ’n bydrae te lewer en mense moet nie bang wees om ons te nader met voorstelle en idees nie. Ons is nie vreemdelinge vir mekaar nie want ons is almal Cradockers en het julle hulp baie nodig,” het sy gesê.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit word tans gelei deur ’n span vroue met Noncedo Zonke, burgemeester, Nyameka Goniwe, speaker en Maria Nortjé as hoofsweep.
Die DA word deur vyf vroulike en twee manlike raadslede verteenwordig terwyl die ANC ses vroue en vyf mans in hulle kamp het.
