Nuwe verpleegster by Kankersorg

Joan van Heerden het van kleins af geweet dat sy ’n gebore verpleegster is. Dit is haar passie om vir siek of ouer mense te sorg en hulle al die liefde te gee wat hulle so nodig het.


Joan van Heerden het van kleins af geweet dat sy ’n gebore verpleegster is. Dit is haar passie om vir siek of ouer mense te sorg en hulle al die liefde te gee wat hulle so nodig het.

Haar nuwe aanstelling as verpleegster van Cradock Kankersorg beskou sy as die spesiale soort omgeewerk waarvoor sy aangelê is.

Joan het reeds op 1 Julie diens aanvaar as opvolger van sr. Nelie Kellerman wat ná baie jare van toegewyde diens haar bedanking ingedien het.

Joan van Heerden, Cradock Kankersorg se nuwe verpleegster. FOTO: WILNA DE KLERK

Omdat sy so seker was wat sy met haar lewe wil doen, het Joan as jong skoolverlater onmiddellik in 1980 met haar verpleegster-opleiding by die Uitenhage-hospitaal begin.

Sy is daarna ook na Sharley Cribb in Port Elizabeth waar sy in saaldiens, teater- en kraamwerk opgelei is.

As jy nie ’n gebore verpleegster is nie, kan jy nie regtig daardie tipe werk doen nie

In 1984 het sy by die Cradock-bloedbank kom werk waar sy vir 19 jaar in diens was. Toe die bloedbank gesluit word en daar oorgeskakel is om bloed met mobiele eenhede in te samel, het Joan in 2003 by dr. Eddie de la Harpe, ’n privaat praktisyn, op Cradock gewerk. Toe hy vyf jaar later die dorp verlaat het, het sy by die Elizabeth Jordaan-tehuis vir bejaardes gaan werk.

“By die ouetehuis moet ’n mens met alles kan cope en jy kry te doen met gevalle wat baie emosioneel is. As jy nie ’n gebore verpleegster is nie, kan jy nie regtig daardie tipe werk doen nie,” het sy gesê.

Sy moes ongelukkig, weens voetprobleme, haar werk by die tehuis laat vaar. Oor die twee jaar wat sy ná haar aftrede en voor die nuwe aanstelling ’n huisvrou moes wees, sê Joan: “Dit is ’n werk wat nooit ophou nie.” Sy blameer haarself egter hiervoor omdat sy nie die hospitaal se higiëne en netheid uit haar gestel kan kry nie en sy heeldag loop en aan die kant maak by die huis.

Sy beskou haar werk as kankerverpleegster as ’n nuwe uitdaging waar sy met spesiale soort mense gaan werk en sien baie uit daarna om ’n sukses daarvan te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.