EK kuier laat een nag met my vriendin, Martie. Mens kan maar sê ons ken mekaar al vandat ek my verstand gekry het. Martie gee my ’n geweldige pyn. Sy kom kuier klokslag by my as ek ’n rêrige goor dag gehad het. Dis ’n gawe van haar. En sy praat só hard en só baie, mens kan jouself nie hoor dink nie.
“Dank Vader Junie is verby,” sê sy dié nag. “Moedersdag, jy weet.” Ek skud my kop: “Ag sjarrap, Martie. Moedersdag was in Mei.”
“Presies,” antwoord sy. “Ek kan nie gou genoeg afstand kry daarvan nie. Ek distansieer my geheel en al van Moedersdag!” Martie begin feitlik áltyd haar sinne met “ek”, en sy sê wat sy wil sê met pleonasme, oordrywing en woordspelings. Sy’t te veel tyd om te dink. Dán kom hou sy my uit die slaap. Ek wens sy wil eerder soos Marta van die Bybel wees, en gedienstig skarrrel om die huis skoon te kry. Maar Martie lees my gedagtes:
“Ha-ha-ha. Onthou jy die keer toe Marie wou kom kuier, toe whatsapp jy haar ‘my huis lyk soos ’n soepel vrou van die nag se handsak’ en toe jy klaar send gedruk het, sien jy jy het dit vir ’n landswye diakoniegroep gestuur. Dis amper so ’n epic fail soos daai vrou van Schwei…”
“Sjarrap, Martie!” probeer ek weer. “Ek dink Moedersdag is net daar om ma’s soos ek ’n m**rse kompleks te gee,” karring sy aan.
“M**rse is ’n kras woord, Martie,” betig ek haar.
“M**r beteken moeder, het jy dit nie geweet nie?” vra sy. “Dis actually m**rse ironies, né. So asof die universe gewéét het dat moederskap een groot toets is waaraan alle vroue hulself gaan meet. En álle vroue dink hulle faal. Maar hulle hou aan probeer, ter wille van hulle mans en kinders. Enkeles raak bewus van God se genade, en dán word hulle lief en sag en moederlik.”
“Jy’s te sinies,” antwoord ek. “My eie ma was ’n bitter goeie ma.”
“Mmmm,” mymer Martie, “die moederwond! Álmal het een, weet jy?”
“Luister, Martie,” bedwing ek myself met moeite, “die enigste moederwond wat daar is, is ’n episiotomie, en dít groei toe!” sis ek.
“Dream on, sister,” koggel sy voort. “As jy ’n goor ma gehad het, het jy ’n wond dáároor, oor jy iets gemis het. En as jy ’n goeie ma gehad het, het jy selfs ’n erger moederwond, oor jy jouself heeltyd herinner aan jou eie tekortkominge. ’n Moederwond vir jou, en ’n moederwond vir jou, moederwonde vir almal!” skree Martie soos Oprah, en ál die honde in my kop begin te blaf.
“Martie,” smeek ek floutjies. “Ek is moeg. Ek is onvoldoende. Ek probeer so hard, maar ek maak dit nie. Ek is ’n horrible voorbeeld vir my kinders.”
“Ja, jy is,” steek sy haar vinger in my wond. “Ek weet presies hoe jy voel. Maar ek het dit al vir Hom gesê ook. Weet jy wat antwoord Hy? Eers het Hy gesê: ‘Marta, kom sít by my.’ En toe ek by sy voete sit, toe kerm ek weer: ‘Hoekom kan ek nie soos ander ma’s 24/7 goedversorg sweef deur ’n netjiese huis met kinders in wie se elke behoefte ek behoorlik voorsien het nie? Ek kán nie!’” het ek geskree.
“Weet jy wat doen Hy toe? Toe vryf Hy eers my kop op sy knie en toe lig Hy my kop met altwee Sy groot hande oor my ore en sê: ‘Jy’s reg, Martie, jy kán nie. Onthou dit. Maar Ék, my liewe Martatjie, Ék kan. Moet dit ook nooit vergeet nie.’ Toe wys Hy my Sy palms en sê: ‘Mens hoef nie jou wonde weg te steek nie, Marta, want juis aan my wonde het my vriende my herken, en tóé kon ek hulle bedien. Dis dieselfde met jou man en kinders. En môre, Marta, môre is ’n nuwe dag!’
“Ek’s sorry ek het jou uit die slaap gehou,” sê Martie, en sy staan op.
“Gee hier jou honde, ek sal hulle vat om ’n entjie te gaan stap, dan slaap jy bietjie.”
Toe hou sy my ’n oomblik vas, en toe’s sy weg.