Obesa Kwekery is Mexiko minus die vliegtuigkaartjie

DIT is min mense beskore om vanaf Suid- Afrika te reis na die Amerikas – waar die kaktus sy oorsprong gehad het – om dié plant in sy natuurlike habitat te aanskou.


DIT is min mense beskore om vanaf Suid- Afrika te reis na die Amerikas – waar die kaktus sy oorsprong gehad het – om dié plant in sy natuurlike habitat te aanskou.

Besoekers aan Graaff-Reinet sal dus wonder waar die groot verskeidenheid kaktusse vandaan kom wat sypaadjies oral in dié dorp versier. Die antwoord lê nét buite die dorp, op die sewe hektaar vanwaar Obesa Groothandelkwekery deur Anton Bouwer bedryf word.

Op ’n wandeling deur dié yslike versameling kaktusplante kan mens jou in ’n japtrap verbeel jy’s in Arizona of Mexiko, en mens verwag enige oomblik ’n bloubaard geklee in ’n poncho en sombrero om met die klinkge-luid van spore aan sy stewels agter ’n lang kaktus uit te beweeg!

Anton het as kind reeds met dié stokperdjie begin, en voer nou al langer as 25 jaar kaktusse en vetplante uit na verre lande. Vandag is Obesa een van die grootste private kaktus- en vetplantkwekerye ter wêreld. Korporatiewe maatskappye, botaniese tuine, kwekerye en privaatversamelaars van lande soos Spanje, Italië, Dubai, China en Japan, tel onder Obesa se kliënte.

“Ons Suid-Afrikaanse mark groei ook goed,” vertel Anton. Die huidige neiging om waterwys tuine aan te lê, maak mense bewus van die noodsaaklikheid om vetplante en kaktusse in te span in tuinuitleg. “Ons plaaslike kliënte is hoofsaaklik van die Wes-Kaap, Johannesburg en Bloemfontein, en dan ook privaatversamelaars van oral oor die land.”

’n Besoek aan Obesa se yslike versameling vetplante, waaronder ’n hele klompie uiters skaars spesies, is genoeg om enige vetplantgeesdriftige gaande te hê. Met so ’n spogversameling sal mens seker sukkel om ’n voorkeur te hê, maar Mid-Karoo Express het Anton tóg gepols oor sy gunsteling. “Dit is die rare Pelycephora Asseliformis,” ’n piepklein plantjie tussen die ander, wat hy aan Mid-Karoo Express uitwys. “Dis ’n versamelaars-plant, en groei maar skaars 1mm per jaar. Van dié wat ek het, is dus geslagte oud, so klein soos hulle is!”

Anton ryg die botaniese spesiename van elke kaktus en vetplant wat mens kan uitwys uit, en spel hulle asof hy dit in sy slaap kan doen. Eenkant in ’n skuur lê ’n yslike, swaar kaktus van meer as twee meter lank. “Ons moet hom weer terugplant, want hy kon nie inpas in die laaste skeepshouer wat ons moes laai nie.” Die mediese draagbaar neffens die kaktus getuig daarvan dat ’n boer ’n plan maak, want om dié geniepsig stekelrige handelsware uit die grond te haal en te verskeep, kos vernuf.

Ten laaste wou Mid-Karoo Express weet watter kommersiële vetplantmengsel Anton sou aanbeveel vir vetplantliefhebbers wat vetplante wil uitplant. “Ek verkies by verre om die volgende mengsel self aan te maak.”

1 deel riviersand

1 deel fyn gesifte kompos

1 deel grond en

1 deel 3mm gruis.

Obesa Groothandelkwekery is ook oop vir die publiek. Besoek hulle webwerf by
www.obesanursery.com
.

You need to be Logged In to leave a comment.