Ongeluk verydel Blinkwater-tiener se polisiedroom

’n AGTIENJARIGE tiener van Blinkwater naby Fort Beaufort se droom om eendag haar gemeenskap teen misdadigers te beskerm, is deur ’n padongeluk in die wiele gery.


’n AGTIENJARIGE tiener van Blinkwater naby Fort Beaufort se droom om eendag haar gemeenskap teen misdadigers te beskerm, is deur ’n padongeluk in die wiele gery.

Weens die aard van haar beserings moet sy nou die res van haar lewe in ’n rolstoel deurbring.

Mid-Karoo Express het die 18-jarige Levernia Lottering verlede Donderdag by haar ouerhuis op Blinkwater, tien kilometer buite Fort Beaufort, besoek om by haar uit te vind hoe die ongeluk – wat bykans drie jaar gelede gebeur het – haar lewe verander het.

In haar elektries-aangedrewe rolstoel in die woonkamer van hul ruim bloksteenhuis sit sy by die voordeur en uitstaar. Haar moeder, Desireé (57), is aan haar sy. Tans is sy haar dogter se regterhand.

Levernia kan nie veel van die noodlottige ongeluk, waarin vyf mense dood is, op 11 November 2015 onthou nie. Sy was toe maar 15 jaar oud en in gr. 7 by ’n skool op Fort Beaufort.

“Ek onthou dat ek dié oggend by ons halte op my skoolvervoer, ’n wit Colt bakkie, gewag het. Dit het skoolkinders vanaf Balfour na Fort Beaufort vervoer. Dit was ’n lieflike somersdag en ons was altesaam tien kinders agter in die bakkie. Ek het vir ’n wyle ingesluimer en toe was daar net ’n harde slag. Verder kan ek niks van die ongeluk onthou nie.”

Mid-Karoo Express se korrespondent het destyds oor die ongeluk in Die Burger berig. Die ongeluk het dié oggend in digte mis op ’n skerp draai by Fort Beaufort se steen-oonde, sowat 5 km buite die dorp op die R67 gebeur.

Die bakkie het in ’n 40-meter-lange abnormale vrag swaarvoertuig vasgery.

Drie volwassenes, Levernia se nefie, Lario Barends (12) asook ’n voorskoolse kleuter is opslag in die botsing dood en die res, onder wie Levernia, is ernstig beseer. Die ongeluks-toneel het soos ’n slagveld gelyk en verkeer moes deur ’n aangrensende lemoenboord gereguleer word.

Levernia is eers in Fort Beaufort-hospitaal opgeneem en later inderhaas na die Frere-hospitaal in Oos-Londen oorgeplaas.

Sy was vir ’n paar weke in ’n koma en het ses maande in die hospitaal deurgebring. Haar heup en regterarm was onder meer gebreek en een van haar nekwerwels ernstig beskadig. Weens die ongeluk is sy van haar nek tot by haar voete verlam.

Ma Desireé vertel hoe sy by God gepleit het om tog haar kind te spaar. Sy moes vir ses maande pal die lang rit tussen Blinkwater en Oos-Londen aanpak om aan haar kind se sy te wees.

“My kind kan niks vir haarself doen nie. Ek was haar, voer haar, trek haar aan en ruil haar doeke om.”

Terwyl Desireé vertel, kyk Levernia strak by die voordeur voor haar uit – die hartseer en pyn duidelik op haar gesig. Desireé se raad aan ouers wat dieselfde deurmaak is om ge-duldig te wees en jou kind al die sorg en liefde te gee wat hy of sy nodig het.

“Ek dank my Skepper elke dag dat ek nie voor ’n oop graf gestaan het nie, maar nog be-voorreg is om my kind te versorg en met haar te kan gesels.”

Luidens Levernia is haar ma in hierdie tyd haar lewenskruk en sal sy deur niemand anders versorg wil word nie.

Sowel Levernia as haar ma sê dat die nood-lot sy gang gegaan het en dat hulle niemand vir die ongeluk blameer nie. “Ek wou so graag eendag ’n polisievrou word, maar die Here het ander planne met my gehad,” het Levernia gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.