TOE ek in 1960 in matriek kom, word ds. Karel van Heerden (Karel Gog of sommer ou Goggatjie) as onderwyser aangestel.
Hy het in Hofmeyr groot geword en almal het hom en sy familie baie goed geken. Sy pa was oom Willem Gog. Maar meneer Karel was ook nie in Boekhou gekwalifiseerd nie. Sy vakgebied was eerder tale. Hy was later jare professor aan die Universiteite van Venda en Port Elizabeth.
Hy het gewoonlik voor by die tafel gesit en dan die vraag in die Boekhou-handboek voorgelees. Langsaan het die antwoordstel gelê. Op die ry af het hy dan vir ons gevra wat die antwoord is. En dan kontroleer hy so onopsigtelik as moontlik of dit korrek was.
Maar moenie vir hom vra waarom ’n betrokke inskrywing juis so gemaak moes word en nie anders nie. Hy was nie gebore in staat om dit te verduidelik nie.
Sy manier van klas gee het natuurlik die ideale omstandighede vir kierang geskep. Jy kon presies uitwerk watter vraag jy gaan kry en jou ordentlik voorberei. Maar ek het selfs verder as dit gegaan. Ek het nie my Boekhou se huiswerk gedoen nie. Hoekom dit doen as ek tydens die klas die inskrywings kan maak in die werkboek soos die vraag en antwoord sessie voortgaan?
Op ’n dag het Goggie van sy patroon van klasgee afgewyk. Miskien het hy meer selfvertroue gekry. Hy het met die handboek in die hand so tussen ons banke deurgestap. Toe hy by my bank kom, sien hy dat ek nie vooraf my huiswerk gedoen het nie. Dadelik was ek in die warmwater. ’n Paar stewige rapse op die boud in die kantoor was nogal vernederend vir ’n matriekseun.
Terug in die klas het hy gesê dat ek nie Boekhou gaan deurkom aan die einde van die jaar nie. (Boekhou en Handelsrekene was destyds twee halwe vakke.) Elk geval, ek staan toe op en sê vir hom dat ek hom vir tien pond wed dat ek in Boekhou en Handel ’n A-simbool gaan kry! Nogal arrogant vir ’n skoolseun van daardie tyd. Maar ons het gewed met die hele klas as getuies.
Toe die uitslae aan die einde van die jaar kom, het ek werklikwaar onder meer in Boekhou en Handel ’n A-simbool gekry. Maar as ek hom daarop wys, het hy maar net gelag en weggestap.
Baie jare later, toe ek Adjunk-Uitvoerende Direkteur van Bybel-Media was, moes ek ’n kerkraad in die verre Noord-Transvaal (die Ned. Geref. Kerk Levubu) gaan ontmoet omdat hulle beswaard was oor die teologiese rigting wat Bybel-Media sou ingeslaan het.
Ons het in die kerkgebou vergader en toe ek daar kom, moes ek by die deur staan en die kerk-raad het een vir een ingekom en homself aan my bekendgestel. Terwyl ek daar staan en aangename kennis vir elkeen sê, sien ek uit die hoek van my oog dat Karel Gog ook in die Kerkraad is. Toe hy my hand vat, was dit duidelik dat hy nie weet wie ek is nie. Toe hy homself voorstel as prof Van Heerden, sê ek: “Maar ek ken u baie goed. U skuld my sedert Desember 1960 steeds tien pond.” Toe snap hy wie ek is. Dit het tot ’n hewige spottery gelei.
Een van sy kollegas het, terwyl die vergade-ring aan die gang was, ’n paar sommetjies gemaak en aan die einde van die vergadering opgestaan en verklaar dat prof Van Heerden, met inagneming van die inflasiekoers en allerhande ander faktore, vir my ’n aardige sommetjie geld skuld. Nodeloos om te sê, hy skuld vandag nog vir my daardie geld.