Oom Saag en die B- en K-kommando’s

SATERDAGOGGENDE is ons vroegoggend by oom Saag, want dan kan ons koeimelk direk uit die speen drink en daarna drom ons om hom saam vir sy raaisels, grappies en stories. Ons sit kruisbeen voor hom op die stoep in die Ooste-sonnetjie. Met sy swart voor


SATERDAGOGGENDE is ons vroegoggend by oom Saag, want dan kan ons koeimelk direk uit die speen drink en daarna drom ons om hom saam vir sy raaisels, grappies en stories. Ons sit kruisbeen voor hom op die stoep in die Ooste-sonnetjie. Met sy swart voorskoot sit hy agter sy werkstafel. Timmer, sny en smeer die gare met die harpuis.

Hy is deesdae ’n skoenmaker wat hom met sy lees besig hou. Maak die mooiste en duursaamste leerskoene en help uit soos wanneer ander kleinigheidjies nodig is.

Ons weet oom Saag was in die Boere-oorlog, want dis waar hy “die lood in sy heup gevat” het en dis dié dat hy hier op sy oudag met ’n kierie loop. En dis ook waar hy sy bynaam gekry het met sy saagspelery. Toe hy dus sê: “Vandag is dit ’n oorlogstorie” het ons opgewonde begin rondskuif en kwetter soos ’n klomp vinke.

En oom Saag vat voor: “Dié oorlogsnag was pikgitdonker, koud en nat. Ons Kommando B was bo teen ’n koppie en die vyandelike kommando K, was direk oorkant ons teen ’n ander koppie ingegrawe. Die gebied tussenin was baie rotsagtig en op hierdie maanlose, onweersnag wou niemand dit uit hul skuilings waag nie. Ná middernag is daar ’n ongesonde gerammel van kommando K se kant af. Verder grafstil. Nie eens ’n dieregeluid in die veld nie. Skielik weer ’n gerammel – nader en harder. Dis seker maar die donderweer mompel ons onderlangs vir mekaar en die meeste manne maak hulle klein in hul gate.

“’n Harde donderslag dop ons uit ons gate uit en in die silwer bliksemstraal wat volg, sien ons die die vyand is op ons. Voor ons kon sê veldslag, is die geveg aan die gang. Dis geweerskote, donderweer, bliksemstrale en koeëls wat heen-en-weer vlieg. Ons vuur en hulle vuur en die koeëls brand slote deur hoed en haar en hemp en kets weg van die rotse om ons. Intussen is die hemelse sluise oop en ons kan niks sien nie, maar saam met die reën, reën die koeëls. Skielik is daar ’n harde geskreeu en . . .”

Net toe verskyn ant Hes se mosbolletjie lyf in die voordeur. “Saag, hier’s jou purgasie”, en sy kom plant haar doelgerig voor oom Saag en hou ’n amperse soplepel na hom toe uit.

“Nee, Vrou,” keer oom Saag. “Ek makeer mos niksie. En daai duiwelsdrek van jou het seker weer gemaalde muisbolletjies en vlermuiskoppe in.”

Hy loer na ons en knipoog ondeund. Ant Hes ruk haar ronde lyf nog meer regop en begin bewe soos ’n goed gesette jellie. “Saag, drink. Jou laasnag se middernagtelike gemarsjeerdery closet toe en terug, gebeur nie gou weer nie. Oóóóf . . .” en sy rek die woord langer uit as die alfabet en kyk betekenisvol na ons met haar uiloë agter die dik brilglase. “Of ek vertel vir die kjinners waar jy hierie simpel oorlogstorie gaan haal het . . .”

“Maar Vrou, dis alles eintlik jou skuld. Jou spyskaart van gister was nie reg nie. Kool gistermiddag saam met die vet vleisribbetjie en daai lippe-aflek boontjiesop en spek gisteraand.”

Oom Saag se mond is nog oop met die beskuldiging toe druk Ant Hes die lepel met mening daarin. En oom Saag sluk. Sy gesig krimp op soos ’n gedroogde pruim en hy skud sy lyf soos ’n nat hond.

Ant Hes draai om, kyk na ons en sê verontwaardig: “Boontjies en Kool – dis die B- en K-kommando’s waarvan hy praat. En as julle my vra, is dit nou ’n pot oorlogsop vir ’n goor maag” en sy stoom triomfantelik die huis in.

You need to be Logged In to leave a comment.