EK en oud-radioman Fonnie was aan die gesels oor, van alle dinge, sirkusse, toe dit hom aan oom Vaatjie herinner.

En vroue wat die broek dra by die huis. Die kitaar slaan.

Lank voordat daar gedink is aan gelyke regte. Of so iets.

Sirkusse was in die jare voor TV en saam met fliek van die grootste aantrekkingskragte vir die jeug – en volwassenes. Veral die plattelandse jeug. Waar vermaaklikheid skaars was.

En ’n sirkus vir groot opwinding gesorg het. Die nuus het soos veldbrand versprei wanneer ’n sirkus op pad was. Boswell en Wilkie s’n was die groot gunstelinge.

Ek het altyd ná skool op pad huis toe vinnig ’n draai by Cradock se skouterrein gaan maak om die vordering met die opslaan van die yslike tent gade te slaan. En tussen die verskeidenheid diere deur te loop.

Olifante wat aan ’n ketting ’n tree of wat vorentoe, en dan weer agtertoe kon gee. Rustig staan en vreet het aan bale lusern. En tussendeur vragte grond met hul slurpe bymekaarmaak en oor hul lywe strooi. Voordat hulle blink geborsel word vir die vertoning.

Die leeus, die tiere, die honde wat later rugby sou speel met ballonne, die perde waarop allerhande toertjies uitgevoer sal word terwyl hulle, pronkvere op die kop, al in die rondte draf in die arena.

Ja, sê Fonnie, elke groep diere het sy eie aantrekkingskrag. Nes die verskillende artieste. Die manne wat op die lang stelte loop, die ouens en meisies wat hoog bo by die nok van die tent allerhande gevaarlike toertjies doen waar hulle aan swaaie hang.

Jy sien hierdie mense almal hard aan die werk terwyl die tent opgerig word. Elkeen dra sy deel by om dit glad te laat verloop. Nou is hulle gewone werkers, maar wanneer hulle in die arena verskyn, iemand heeltemal anders.

Pa en Ma het ons gewoonlik na die middagvertoning geneem. Elkeen met ’n roomys en koeldrank in die hand oopmond die tent binnegestap. Vol afwagting gesit en wag vir die eerste rammel van die tromme.

Hare orent, grootoog, as die leeu nie wil doen wat die temmer wil hê hy moet doen nie, oopmond as die temmer later sy kop binne Koning Leeu se oopgesperde bek druk. Groot toejuiging vir elke toertjie deur die verskillende artieste en diere.

En groter toejuiging, gejuig en gelag, veral deur die jongklomp, wanneer die hansworse, Tiekie en sy maats, met yslike glimlagte op hulle gesigte geverf, die gehoor op hulle manewales trakteer.

Maar, hoe bring die sirkus vir Fonnie by oom Vaatjie? Oom Vaatjie was ’n ryk man, sê Fonnie. Groot plaas gehad. En baie geld. Toe trou hy ’n tannie wat, onder meer, sy geldsake gewerk het. Later, toe hulle drie dogters groot was, het dié saam met hul ma oom Vaatjie se geldsake gewerk.

En sommer sy gal ook op die koop toe.

Oom Vaatjie moes spring wanneer die tannie praat. Oor enigiets. Geen teëstribbeling nie. Nee, net uithaal en wys. Al die pad. Hy en Fonnie se oupa sit een aand op die stoep en gesels toe die oupa vir oom Vaatjie vra of hy gehoor het die sirkus kom dorp toe.

Ja, het oom Vaatjie gesê, hy het gehoor. “Hoekom vra jy?” Wou hy weet. Fonnie se oupa sê hy het gehoor oom Vaatjie se vrou het kaartjies gekoop vir die aandvertoning die volgende aand.

Stilte. Dan vra oom Vaatjie verleë, “Jy het nie dalk gehoor of ek saamgaan nie . . . ?”

You need to be Logged In to leave a comment.