IN Tamboekiesvlei in die hartjie van die Katriviervallei woon een van dié kontrei se legendes.
Johannes Lodewyk Loots, alombekend as oom Wykie, is ’n boorling van Hertzog waar van ons felste Xhosa-oorloë in toeka se dae geveg is.
Oom Wykie is op 2 Februarie 1931 op die plaas Groepskloof in Tamboekiesvlei by Hertzog gebore. Hy het onlangs sy 87ste verjaardag gevier.
Luidens oom Wykie het hy net tot standerd vyf op Hertzog Primêr, die oudste skool in die Katriviervallei, skoolgegaan. Daarna het hy saam met sy broers met hul pa op die landerye gaan werk.
Die Katriviervallei was in ’n stadium die hartland van die tabakbedryf. Op die naburige dorpie Balfour staan vandag nog ’n gebou wat destyds gebruik is om tabakblare vir die uitvoermark te droog.
Oom Wykie se eerste werk was in 1950 by ’n bakkery op Oos-Londen, maar hy het later brood en koeke vir motors verruil. In Port Elizabeth het hy onder meer vir Ford, General Motors asook Citroën gewerk.
Oom Wykie dink met heimweë terug aan die pampoene, aartappels en ander groente wat in sy tyd uit Tamboekiesvlei se lande geoes is.
Ten tye van die apartheidsjare se gedwonge verskuiwings onder die destydse Lennox Sebe-regime was oom Wykie een van die rebelle wat volstrek geweier het om uit Hertzog te trek en op Fremersheim naby George hervestig te word.
Hy het tot ’n paar jaar gelede nog met dorperskape op Hertzog geboer, maar diefstal het hom daarvan laat afsien. Deesdae hou hy net ’n koei of twee aan vir melk vir sy en vroulief se koffie.
Skertsend verklaar hy dat hy deesdae net leef vir sy “goose” Louisa met wie hy nou al 26 jaar getroud is. Sy eerste huwelik het nie uitgewerk nie en in die skeihof geëindig.
Oom Wykie is tans ouderling van die VGK-Kerk op Hertzog en is ’n groot voorstaander van naasteliefde.
“My een swak punt is dat my oë baie naby my blaas sit. Ek praat graag by begrafnisse, maar as ek my kom kry vloei die trane vrylik,” erken hy met gryse eerlikheid. Oom Wykie bestuur nog sy geliefde Toyota bakkie en ry nog na begrafnisse oor die ganse Oos-Kaap.
Volgens hom pla die ore en oë so bietjie en wil die gewrigte ook nie meer so lekker saamspeel nie, maar terwyl daar nog samboksalf op winkels se rakke is sal hy en sy “goose” mekaar se pyne uitsmeer.