DIE Oos-Kaap se top hoërskoolatlete het vanaf 6 tot 9 Maart op Nelson Mandela Universiteit (NMU) se bane in Port Elizabeth meegeding.
Hulle puik prestasies voorspel goeie uitslae vir die provinsie by die SA Hoërskole kampioenskapsbyeenkoms in Potchefstroom.
Shirwen van Staden, spogatleet van die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, was een van die uitblinkers by die byeenkoms. Hy het twee goue medaljes in die seuns o.19-afdeling verower.
Hy het die 100m in ’n tyd van 10,4 sekondes voltooi en sy wentyd in die 200m was 21,99 sekondes.
In die meisies o.15-afdeling het Marni van der Merwe van Volkskool ook twee medaljes gewen. Sy het die 100m met 12,6 sekondes gewen en tweede in die 200m met 26,50 sekondes geëindig.
Volkskool se prestasies is deur Caryn Swartz met ’n derde plek in die 200m meisies o.17 met ’n tyd van 28,10 sekondes voortgesit. Sy het ook ’n vierde plek in die 100m behaal.
Cullen August het vierde in die 100m seuns o.19 geëindig.
Medaljes is in veldnommers deur Chris Burger met ’n silwer medalje in spiesgooi seuns o.17 (48,57 meter) en Jay-Dee Jooste met ’n brons medalje in driesprong seuns o.17 (12,33 meter) verower.
Jay-Dee het ook ’n vierde plek in hoogspring (1,85 meter) behaal.
Die volgende atlete het almal vierde in hulle onderskeie items geplaas:
Lafras van Rooyen, diskus seuns o.19, 34,83 meter
Caryn Swartz, verspring meisies o.17, 4,77 meter
Dané Thiart, gewigstoot meisies o.15, 9,98 meter