DAAR was groot opgewondenheid toe die vervaardigers van die televisiereeks, Spoorloos, verlede Saterdag ’n kermis op Cradock gereël het.
In die televisiereeks sal dit bekend wees as die opening van “Digtersdal se Fakkelfees”.
Die vervaardiger van die reeks, Ilse van Heemert, het die plaaslike musikant en sanger Chris Brits genader om as seremoniemeester en sanger van die fees op te tree.
Ilse het Chris lof toegeswaai vir sy pragtige stem en uitstekende wyse waarop hy sy rol hanteer het. Chris is ook gevra om die oorspronklike musiek van sy CD, 24-Uur, beskikbaar te stel vir gebruik in die televisiereeks.
“Ek is teen dié tyd darem al ’n ervare verhoogsanger en het al verskeie CD’s en ’n DVD bekendgestel, maar toneelspel is vir my ’n splinternuwe ervaring wat ek baie geniet het,” het Chris gesê.
Chris het so ’n groot indruk op die akteurs gemaak dat die welbekende veteraan-akteur, Lieb Bester, ná al die opgewondenheid van die verfilming verby was, saam met die plaaslike predikant, ds. Attie van Wyk – ook ’n uitmuntende musikant – aan huis van Chris en Elmari hul passie vir goeie musiek gaan deel het.
Die kermis was een van die grootste wat nog op Cradock aangebied is met 40 stalletjies en produkte en eetware te kies en te keur. Daar was groot belangstelling van die publiek aangesien tonele van die skare by die kermis in die reeks kan verskyn.
Akteur soos Kim Syster, Amalia Uys, Deon Coetzee, Catriona Andrew, Francois Jacobs, Zane Meas, Hannes van Wyk, Liz Meiring en Morné Visser het vryelik tussen die kermisgangers beweeg en foto’s van hulle laat neem.