LAERSKOOL Cradock se o.10A tot o.13A-netbalspanne, die o.10A- en eerste meisieshokkie-spanne, sowel as die o.11A- en o.13A-rugby-spanne het van 14 tot 16 Junie ’n kort sporttoer na Port Elizabeth onderneem.
Die toer het begin met ’n opvoedkundige uitstappie na die Addo-olifant nasionale park. Dit was vir baie van die toerlede en personeel ’n onvergeetlike ervaring, want hulle was baie gelukkig om troppe olifante van naby te kon aanskou!
Daarna het die spanne na Port Elizabeth vertrek. Die eerste netbal-, hokkie en rugbywedstryde het Donderdagmiddag teen Laerskool Summerwood plaasgevind. Ná afloop van die wedstryde, het die toerlede na The Willows vertrek, waar hulle tuisgegaan het.
Cradock het ook teen die Laerskole Charlo, Parson’s Hill en Verkenner op die sportveld meegeding. Cradock se spanne het gemengde welslae in die wedstryde behaal.
Die o.10A- en o.11A-netbalspanne verdien spesiale vermelding aangesien hulle die toer onoorwonne afgesluit het.
Waardevolle ondervinding is opgedoen en aan die einde van die toernooi het sportmanskap geseëvier. – REPORTER