DIÉ wat ’n sagte punt het vir die bewaring van Cradock se geskiedkundige geboue sal bly wees om te hoor dat SAHRA ingestem het om die 165-jarige Congregational kerkie op die dorp ten volle te restoureer.
Dit is op voorwaarde dat die bestuur van die kerkie ’n sakeplan voorlê en die versekering gee dat die gerestoureerde gebou tot diens van die hele gemeenskap sal wees.
Volgens Abie van Wyk, kerkraadslid van die Congregational gemeente in Michausdal, is ’n hele klomp projekte reeds voorgestel en hulle is dringend besig om aan ’n sakeplan te werk.
Van die voorstelle wat ontvang is, is interkerklike huwelike, begrafnisse, spesiale dienste, drama-opvoerings, vroeë leerprogramme twee of drie keer per week, konferensies, uitstallings van geskiedkundige Christelike literatuur, ’n koffiewinkel, museum en selfs om saailinge te kweek.
Van Wyk het gesê dat die voorste gedeelte van die kerk, preekstoel en die grafte van Robert Barry Taylor en sy vrou, Marianne, afgeskort sal wees sodat besoekers dit kan besigtig, maar nie kan betree nie.
Die Congregational kerk is geleë in Hoogstraat en is in 1853 in gebruik geneem. Alhoewel die kerkie omvattend in 1982 gerestoureer is voordat dit tot nasionale monument verklaar is, het dit nou weer ernstige restourasiewerk nodig sodat aandag aan gebarste mure, los pleister, gebreekte deure en vensters asook die duiwemis-bestrooide geelhoutvloere gegee kan word.
Die kerk is selfs ná 1974, toe dit deur vloedwater beskadig is, deur die plaaslike gemeente gebruik, maar ongelukkig nie vir lank nie. Die Wet op Groepsgebiede het ingetree en die gemeente is gedwing om ’n nuwe kerk in Michausdal te bou.
Meubels en toerusting is na die nuwe gebou verskuif, maar sal ná die restourasie weer na die ou kerk in Hoogstraat geneem word.