Ou vriende om ’n tafel by Pioneers-restaurant

Graaff-Reinet het geen tekort aan pragtige, wit geboue nie. As ’n mens uit Kerkstraat links draai in die boomryke Parsonagestraat, doem die statige Reinet-huis voor mens op.


Graaff-Reinet het geen tekort aan pragtige, wit geboue nie. As ’n mens uit Kerkstraat links draai in die boomryke Parsonagestraat, doem die statige Reinet-huis voor mens op.

Dis juis waarheen ek op pad was, toe ’n kleurvolle geboutjie my regter-oog vang, en net daar slaan ek briek aan om dié prentjie teen die Karoolug af te neem. “Pioneers, The Traditional Karoo Food Restaurant,” sê die bordjie.

Die palmboom op die sypaadjie wink my nader, en toe ek die kleurvolle mosaïekplantpotte sien, wéét ek die mense van dié plek het mooi harte. Binne word ek hartlik ontvang deur Siena Jafta (al tien jaar lank bestuurder) en sy laat my toe om my – op my tyd – te verlustig in die dekor van dié eetplek, wat getuig van groot moeite.

Lekker kuier om die tafel. Foto: Elsabé Pienaar

Die volgende oggend ontmoet ek Pioneers se eienaars, Roelien de Putte en Almaré Fourie. “Ons maak hartskos,” sê Roelien. “Dis nie net belangrik dat ons gaste lékker moet eet nie, ons wil hulle ’n hartlike ervaring bied, sodat hulle weer en weer sal wil kom.”

Almaré beaam dit: “Ons kombuisleuse is: Never trust a skinny cook! Ons het ’n passie vir lekker kos en groot porsies.” Almaré, ’n oud-sosioloog, is iemand wat haar huiswerk deeglik doen: sy het gaan navorsing doen oor tradisionele geregte en die spyskaart daarop geskoei.

Ons kombuisleuse is: “Never trust a skinny cook!” Ons het ’n passie vir lekker kos en groot porsies.
Almaré Fourie van Pioneers

Toe sy die dekor aanpak, het sy die dorp se argiewe stormgeloop. “Reisigers spandeer dikwels net een nag in Graaff-Reinet en het dan nie tyd om die museums te besoek nie. Daarom het ons besluit om hulle ’n kykie in ons dorp se ryk geskiedenis te bied met die ou foto’s teen die mure, en hulle maak regtig gebruik daarvan deur ná ete deur die restaurant te drentel van foto tot foto.”

Kleurvolle biertuin. Foto: Elsabé Pienaar

Die biertuin ágter in Pioneers het ’n plek geword waar vriendskappe gesmee word wat die sewe oseane oorkruis. “Daar is iets aan ’n oop vuur wat grense wegbrand – oorsese toeriste ken dit nie, en oud en jonk kom staan hier en kuier,” vertel Roelien.

“Die toeriste is vir ons ’n bonus,” sê Almaré. “Ons is eintlik die ‘locals’ se restaurant. Kyk, dis ’n voorreg om in Graaff-Reinet te kan bly – ons is trots op ons dorp – en ons wou ’n kuierplek skep waar vroue veilig voel en jongmense gemoedelik kan bymekaarkom. Ons kroegie is klein en ons kroegman, Daniël Marlow, ’n bekwame man – minderjariges word gou-gou hier die deur gewys, want ons reputasie is vir ons belangrik.”

En nie om dowe neute nie, merk ek. Die titel van “Tripadvisor Beste Restaurant in die Dorp” is die afgelope vyf jaar elke keer deur Pioneers opgeraap.

By die tafel langsaan sit ’n vrou uit Kanada. “Everything okay?” vra Roelien.“Yes . . . I just don’t know how we’re going to eat everything,” kla sy, en ons lag almal saam.

Dis hoe dit ís, dink ek, nes die koebaai-bordjie as jy by Pioneers uitstap sê: “Come as strangers, leave as friends, return as regulars.”

Lekker kuier om die tafel. Foto: Elsabé Pienaar

Foto: Elsabé Pienaar

Foto: Elsabé Pienaar

You need to be Logged In to leave a comment.