’n Oud-leerder van die Hoër Landbouskool Marlow, Nevaldo “Matrix” Fleurs (23), speel skitterende rugby vir die Universiteit Stellenbosch en is in ’n Varsity Cup-wedstryd aangewys as die Man van die Wedstryd.
Fleurs het in 2017 by Marlow gematrikuleer, dieselfde jaar wat hy vir die OP-rugbyspan by die Cravenweek-rugbytoernooi uitgedraf het.
“Nevaldo het in 2018 by Stellenbosch Universiteit sy studies in B.Com Beleggingsbestuur begin en dieselfde jaar plek in Maties se Young Guns-rugbyspan gekry. Hy het ook in 2019 vir dié span gespeel wat in 2018, sowel as 2019 die Young Guns-kompetisie gewen het,” sê Nevaldo se pa, Neville Fleurs van Cradock.
Nevaldo draf vanjaar as heelagter vir Universiteit Stellenbosch se eerste span uit.
“Hy verkies om heelagter te speel, maar is in die laaste twee wedstryde in die nommer 10-trui as losskakel gebruik, want hy is ook ’n sterk skopper,” sê Neville.
In Maties se Varsity Cup-wedstryd teen Universiteit van die Wes-Kaap is Nevaldo as die Man van die Wedstryd aangewys. Maties klop ook oortuigend die Universiteit van Kaapstad met 58-19 in die eerste van twee Varsity Cup halfeindstryde.
Maties se volgende Varsity Cup-uitdaging is op Saterdag, 23 April, teen Tukkies op Stellenbosch.
Die veelsydige Nevaldo is tans besig met sy nagraadse studies en doen sy Honeursgraad in Beleggingsbestuur.
“Ons seun is hardwerkend. Selfs as hy by ons kuier is hy besig met sy studies. Natuurlik is ons trots op hom,” sê Nevaldo se ma, Chalaine Fleurs, skoolhoof by Twinsville Primêre skool op Hofmeyr.

