DIE gemeenskap van die Newtown-woon- buurt op Fort Beaufort is geskok oor die wrede aanranding en verkragting van een van sy senior inwoners.
Die 75-jarige vrou is die afgelope Saterdag-aand by haar woning wreed aangerand en verkrag. Haar huis grens aan ’n saal waar booswigte en vermoedelik dwelmverslaafdes glo snags uithang.
Sy sterk tans in die plaaslike hospitaal aan met veelvoudige kneusplekke aan haar liggaam en geswelde gesig.
Mid-Karoo Express het Maandag die misdaadtoneel besoek en is by die hek ontmoet deur die slagoffer se seun.
Volgens haar seun het hy Sondagoggend kort voor dagbreek van sy werk gekom. Voor sy ma se woning het hy so tien minute lank met ’n vriend gesels voor hy agter die huis omgeloop het waar hy in sy eie buitekamer woon.
Toe hy met sy selfoon lig maak om sy deur oop te sluit, het hy ’n toiletlugverfrisser op die grond sien lê. By nadere ondersoek het hy gevind dat minstens drie vensterruite gebreek is.
“Ek het na my ma deur een van die gebreekte vensters geroep maar daar was geen ant-woord nie.
“Ek het die spaarsleutel in my kamer gaan haal, die deur oopgesluit en binne gegaan.
“Toe ek die lig aanskakel het ek my bebloede en bewustelose ma op die sitkamer- vloer gesien. Selfs die vertrek se mure was vol bloed en my ma se broekie het langs haar gelê.”
Met die hulp van bure het die seun die ambulans en polisie ontbied.
’n Bloedspoor vanuit die toilet tot in die sitkamer, asook bloed teen die mure sowel as die kneusplekke op sy ma se hele lyf, was volgens die seun ’n aanduiding daarvan dat sy ma haar teen haar aanvallers probeer verset het.
Volgens hom het ’n dokter by die hospitaal bevestig dat sy ma verkrag is.
Die seun was Maandag so getraumatiseerd dat hy nie vir werk kon aanmeld nie.
“Sy is ’n vredeliewende mens wat maar net rustig in haar HOP-huisie gewoon het. Hoe kon hulle dit oor hul harte kry om so iets aan haar te doen?” het hy met trane in sy oë gesê.
Die polisie op Fort Beaufort het bevestig dat ’n saak van huisbraak, aanranding, verkragting en poging tot moord geopen is.
Geen verdagtes is nog in verband met die voorval aangekeer nie.