OP Adelaide woon een van dié dorp se geliefde goue oues, die 92-jarige Mailey Botha.
Dié van Middellande se destydse sportvereniging, by naam van die EMEF, wat Botha se watertandlekker vetkoeke ken, weet dit is onvergeetlik.
Om nie eers te praat van die sielsverwarmende sop tydens die wintertye nie.
Ouma Mailey, soos sy bekend is, is ’n nooi Meintjies op 21 April 1925 in Oos-Londen gebore. Sy het haar laerskoolopleiding by St. John’s Road Primêre Skool op Oos-Londen ontvang en haar hoërskoolopleiding by John Bisseker Senior Sekondêre Skool op dieselfde dorp.
Op 21-jarige ouderdom in 1946 het sy met Samuel Morris Botha in die huwelik getree. Hy het haar in 1979 ontval en Botha het nooit weer getrou nie. Sy is nou al vir 39 jaar ’n weduwee.
“My oorleë ma het altyd gesê jou eerste man kom van die Here en die tweede van die duiwel,” verklaar sy.
Luidens Botha was sy jonk in ’n tyd toe mens met ’n standerd ses sertifikaat onderwys kon gee. Ná standerd agt, het sy poste by verskillende skole beklee en het sy vir ’n volle 34 jaar onderwys gegee.
Sy was vir 25 jaar verbonde aan Elandsdrif Primêr waar haar seun, Colin, tans prinsipaal is en dis ook daar waar sy afgetree het.
Ouma Mailey is sedert 1951 ’n lid van die Presbiteriaanse kerk en beklee tans die posisie van ouderling, hoewel sy nie meer kerk toe kan gaan nie. Tans lewe sy vir haar drie seuns, Edgar, Bo en Colin, vir wie sy die wêreld se liefde het.
Oor twee en ’n half maande sal Botha 93 wees, voorwaar ’n mylpaal om te vier.
In antwoord op hoe dit met haar gesondheid, het sy gesê, “Ag my tjint, alles is maar dof. Die oë, die ore, die voete en dan wil die hande ook nie meer vat nie.”