DIE Suid-Afrikaanse wolmark het hierdie week in weerwil van ’n swakker Rand terug gesak vergeleke met verlede week se pryse.
Dit is in navolging van die Australiese mark wat ook gedaal het.
Wol van 19 mikron en fyner het met tot 2% laer verhandel terwyl wol van 19-20 mikron met sowat 3% gedaal het.
Wol van 20-22 mikron was eweneens 2% goedkoper terwyl die prys vir die sterker mikron-groepe feitlik onveranderd gebly het.
Medium-lengte wol was ook ’n aks goedkoper vandeesweek, maar die korter wol van D-lengte moes weer die spit afbyt hierdie week. Die kompetisie bly egter steeds stewig, met sowat 99% van die aanbod wat van die hand gesit is.
Vooruitsigte
Wat opvallend was, was dat die verswakking van die Rand teenoor die VSA Dollar geen impak op pryse gehad het hierdie week nie.
Die Rand fluktueer nou al vir twee weke op en af en dit is hoofsaaklik die gevolg van die gerugte oor grondonteiening sonder vergoeding.
Die nasionale markaanwyser het hierdie week met sowat 2.8% gedaal en staan tans op R180.43/kg skoonwol prys.
Hierdie daling moet grootliks toegeskryf word aan die swakker Australiese mark hierdie week.
Dit is waarskynlik dat hierdie daling net tydelik is en dat die Australiese mark weer nuwe hoogtes gaan bereik en ons mark die styging sal navolg.
- Inligting verskaf deur Pierre de Lange, Wolbemarkingsbestuurder: OVK.
Die drie top pryse op vandeesweek se veiling van OVK/CMW is behaal deur:
. The D and M Family Trust, Barkley East, vir ’n twee baal lot BH van 16.0 mikron, met ’n skoonopbrengs van 69.15% en ’n vetwolprys van R200/kg. Die koper was Standard Wool.
. The D and M Family Trust, Barkley East, vir ’n vier baal lot BH van 16.4 mikron, met ’n skoonopbrengs van 70.57% en ’n vetwolprys van R193/kg. Die koper was Standard Wool.
. P D D Van Der Vyver, Middelburg, vir ’n een baal lot CFFY van 16.3 mikron, met ’n skoonopbrengs van 70.09% en ’n vetwolprys van R188.10/kg. Die koper was Standard Wool.
Die OVK het hul produsente hartlik geluk gewens en hul dank aan die produsente en kopers vir hul getroue ondersteuning uitgespreek.
Terminologie
Wol van witwolrasse: hierdie is wol afkomstig van suiwer witwolrasse wat van nature vry is van steekhaar, gekleurde vesels en hare met tipiese raseienskappe, maar nie Merino-tipe wol nie.
Voorbeelde is SA Vleismerino en Landskaap.
Daar word nie voorsiening in die NWKV-klasstandaarde gemaak vir afsonderlike klassimbole nie, behalwe dat ’n voorvoegsel –“W” aangebring word, soos by WBM, WCS, ens.
Dit is belangrik dat verskillende rasse altyd verskillend geklas moet word.
- Inligting verskaf deur Heinrich Victor, Operasionele Bestuurder Vesel: OVK.