INWONERS van Huis Karee in Middelburg is op Paas-Maandag aangenaam verras deur die besoek van ’n blonde Paashasie wat vir hulle die allerfraaiste mandjies, gevul met Paasbederfies, kom aflewer het.
Elke inwoner het hul eie mandjie ontvang en diegene wat vir die naweek elders was, se mandjies is vir hulle gebêre sodat hulle ook in die vrolikheid kon deel toe hulle terugkom by die tehuis.
Die hasie, Dawn Ratcliff, en haar ma Carol-Ann was verantwoordelik vir die oulike inisiatief.
Huis Karee is ’n tuiste, uitkoms en toe-vlugsoord vir vele senior Middelburgers en omliggende dorpe se senior burgers.
Tans is daar 44 inwoners waarvan die oudste 102 jaar word en die tweede oudste inwoner 101 jaar word vanjaar.
Naas hierdie twee is daar ook nog verskeie ander bejaardes wat kort op hul hakke is en ook laat in hul 90’s is.
Huis Karee se gereelde opskoppartytjies is deesdae dus om die 100-jaar verjaardae te vier.
Die inwoners word gereeld bederf met tee-uitstappies en eetgoedjies waarmee die gemeenskap van Middelburg hul verras.
Die tehuis ontvang gereeld donasies in die vorm van kos, vleis, ander produkte en ook geldelike bydraes.
Die Middelburg-klub het onlangs ’n fondsinsameling vir Huis Karee gehou.
Huis Karee is die klub en gemeenskap van Middelburg ewig dankbaar vir al hul ondersteuning en hul sien reeds weer uit na die volgende fondsinsameling wat op 18 Mei gehou word. Dit is die jaarlikse gesamentlike kerke-basaar wat by die Klaassensaal gehou sal word.
In Oktober sal die tehuis ’n opedag hou waar enigiemand na die inwoners se handwerke kan kom kyk en ook ’n vleisie saam met hulle kan braai.