IMIBALA-galery by die Drostdy-hotel in Graaff-Reinet het op Vrydag, 31 Augustus ’n nuwe uitstalling geopen.
Kunswerke deur die gewilde landskapskilder, Catherine Paynter, kan nou daar besigtig word. Paynter, wat in 1949 in Johannesburg gebore is, is ook bekend vir haar stillewes, marine- en natuurtonele.
Sy put heelwat inspirasie uit haar reise dwarsdeur Suid-Afrika, Swaziland en Lesotho, asook verder noord deur Botswana, Mosambiek, Namibië, Zimbabwe, Zambië, Malawi en Egipte.
Haar paspoort, soos haar kleurvolle kuns-werke, getuig ook van besoeke aan Madagaskar, Israel, Iran, Italië en Spanje. Spesiaal om sneeu te bestudeer, het Paynter ook Winnipeg (Kanada) en Boston (Amerika) in die middel van die winter besoek.
Mid-Karoo Express is genooi om die opening by te woon, en het die geleentheid gehad om met Paynter te gesels. ’n Onderhoud met dié berese kunstenaar is ’n goeie refleksie van haar kunswerke, waarin ewe veel kwinkslae en laag-op-laag betekenis deurskemer.
Sy maak van sterk, helder kleure gebruik, selfs neon.
“Ek dink die plekke en tonele wat ek skilder, ís meesal regtig so helderkleurig. Ons omgewing is eintlik selde in monotone skakerings,” het Paynter gesê.
Paynter werk in akrielverf, gemengde mediums en selfs goudblad. Sy wil egter ook graag tyd inruim om olieverf te leer gebruik.
Onder die kopers van haar kunswerke tel die bekende skrywer Wilbur Smith wat al negentien van haar skilderye gekoop het.
Die opening van die uitstalling is goed ondersteun en gaste is getrakteer op verversings en wyn uit De Camdeboo Wijnkamer.
Dominic Daniël, kurator van die Imibala-galerye (benewens die een in Graaff-Reinet is daar ook ’n Imibala in Stellenbosch) het Paynter bedank dat sy die opening kom bywoon het.
Galerybestuurder Kim Imrie het ondersteuners herinner dat die winste gemaak uit verkope van kunswerke by Imibala ten bate van plaaslike behoeftige skoliere aangewend word.
Belangstellendes kan Imibala by 087 285 4810 skakel.