’n TEKORT aan stimulasie en ’n begeerte om te kan perd ry het tot gevolg gehad dat JF Burger van Hofmeyr se droom waar word toe hy onlangs met perdryterapie begin het.
JF het vroeg vanjaar by Hugs of Hope begin inskakel en dit geniet, maar gevind dat hy nie naastenby genoeg stimulasie ontvang het nie.
Om so tussen ’n klomp vrouens te sit wat net wil kraletjies inryg, hekel, brei en naaldwerk doen, was nie naastenby wat hy in ge-dagte gehad het nie. Sy grootste begeerte was nog altyd om te kan perdry.
Zettie Jordaan is by Hugs of Hope aangewys as die persoon wat hom moet bystaan, en sy het toe sommer die bul by die horings gepak en dadelik in gesprek getree met JF se ma, Thalene. Sy het versoek dat daar ’n plan gemaak word om JF te stimuleer deur vir hom ’n paar keer per week perdryterapie te gee.
Zettie is ’n ou hand as dit by perde kom. Sy het al talle Hofmeyr- en Cradock-kinders touwys gemaak, perde mak gemaak, kinders gehelp om skougereed te kom en sy is ook aktief betrokke by die jaarlikse skou op Hofmeyr.
Vanuit die staanspoor het sy sommer dadelik ’n plan gemaak om vir JF in te skryf by die plaaslike skou, waar hy uitstekend gevaar het in sy klas. Kort voor lank kon Thalene en JF se pa, Kobus met die hulp en advies van Zettie, vir Rochelle Stander van die La Rochelle Stalle in Middelburg oorreed om een van haar perde vir hulle te leen.
Trompie was kort voor lank op Hofmeyr en is sommer baie tuis in die nuwe stal wat vir hom opgerig is.
Daar word nou drie maal per week aktief perdryterapie toegepas en JF is baie opgewonde oor die nuwe vryheid wat hy geniet.
Hierdie terapieklasse is duidelik vir JF en Zettie ewe belangrik, want sy getuig dat dit haar hele lewensuitkyk drasties verander het.